Die Hoër Meisieskool Oranje se toneelstuk Tyd.Saam ryg steeds die teaterpryse in.
Op die Montagu-jeugtoneelfees waar die produksie Dinsdag opgevoer is, het hulle 14 dubbelgoue toekennings ontvang.
Dit volg op verskeie goue toekennings en ’n spesiale trofee op die Logan Toneelfees asook op die ATKV-tienertoneel waar Oranje ’n rekord-aantal sertifikate (24, waarvan nege goud) ingeoes het en as die wenproduksie aangewys is.
Op Montagu is dubbelgoud toegeken vir die produksie, teks en regie (deur me. Retha Pool), klankoperateur (Rehanjo Swanepoel), beligtingsoperateur (Faron Faro), rekwisiete, kostuums, boek en vir al die spelers (Katie Reimers, Kristen Fichardt, Thanya Venter, Kiara Rademan en Hilda Olivier) sowel as vir Jenny die donkie.
Pool beskryf dié poppeteaterstuk as ’n voorbeeld van totale teater en ’n samekoms van ’n paar onkonvensionele dissiplines.