Ofskoon sy net vir twee jaar en ’n klein gedeelte van 2020 die eerste netbalspan van Oranje gebrei het, is die welslae besonders wat mev. Retha Jacobs in dié tyd behaal het.
Jacobs (voorheen Erasmus) het die tuig neergelê aangesien sy nou op ’n plaas woonagtig is. Sy het onlangs getrou.
Jacobs het in 2018 en 2019 vir twee groot hoogtepunte help sorg.
In 2018 was Oranje vir die eerste keer in 22 jaar weer die Bloemfontein-streek se kampioen. Die span het in die stadsliga-eindstryd teen die verwagtinge in teen die Hoërskool Sentraal geseëvier.
Oranje was boonop sonder twee sterspelers, Chantelle Hutton en Kailah Ferreira, wat in Australië vir die Suid-Afrikaanse Skolespan in aksie was. Oranje was die enigste skool met twee lede in dié span.
’n Jaar later het Oranje ’n stappie verder gegaan deur die provinsiale wenner te word ná ’n naelbytoorwinning van een doel in die eindstryd teen Sentraal. Dit was Oranje se eerste titel in die geskiedenis van die toernooi wat in 1984 ontstaan het.
Onder Jacobs se breierskap het Oranje in 2018 en 2019 die All Girls-toernooi gewen (albei keer onoorwonne) en was in 2019 die 13de beste span in die land en in 2018 nr. 18.
Jacobs sonder 2019 se Vrystaatbeker-eindstryd uit as haar kosbaarste wedstryd. “Ons het so gebid dat ons net die eindstryd kon haal. Ons het daardie jaar gesê ons as span gaan iets opoffer wat vir ons spesiaal is. So het ek sjokolade prysgegee.
“Daardie eindstryd was een ongelooflike wedstryd. Genade onbeskryflik groot. Ek wou die hele wedstryd deur net huil. Ek kon nie glo wat voor my afspeel nie.
“Ek was nie eens bewus ons het voorgeloop nie. Ek was met stomheid geslaan toe die eindfluitjie blaas. Dit was seker een van die ongelooflikste ervarings van my lewe,” sê Jacobs.
Volgens haar sal sy ’n hele paar dinge mis om Oranje se brei, maar die meeste haar spanbestuurder, juf. Anne-Marie Klink, se wyshede.
“Sy het my baie goed geleer as spanbestuurder langs die baan. Haar geloof in ons was ongelooflik.
“Die horisonne blink vir Oranje se netbal. Ek sien netbalbekers in die vertoonkas. Daar is ongelooflike talent en goeie afrigters.”

mev. Retha Jacobs, afrigter van Oranje se eerste netbalspan van 2018 tot 2020.