’n Uiters ervare span, twee pare sussies, vier nuwe spanlede en ses SA-spelers kenmerk Oranje se eerste hokkiespan van 2020.
Die eerste span speel Vrydag die eerste keer in ’n amptelike wedstryd vanjaar wanneer hulle teen St. Anne’s Diocesan College op die Bethlehem-hokkietoernooi te staan kom.
Die 15-tal bestaan uit vier matrieks (Roné Bresler, Matilé Prinsloo, Truné Prinsloo en Mikkela le Roux – kaptein), drie gr. 11’s, sewe gr. 10’s en een gr. 9.
Die vier nuwelinge is Leané McLaren, Nicóle le Roux, Marlezé Hoffman en Naudene Prinsloo.
Nicóle en Naudene (albei gr. 10) is die jonger susters van onderskeidelik Mikkela en Matilé. Leané se ouer sussie, Jacolene, het self tussen 2016 en 2018 vir die eerste span uitgedraf.
Ses spanlede is verlede jaar vir nasionale spanne gekies. Hulle s Mikkela (SA o.18A), Truné (SA o.17), Matilé (SA o.17), Ané Janse van Vuuren (SA o.16), Tuané (SA o.16) en Nicóle (SA o.16). Mikkela het ook verlede maand vir die Suid-Afrikaanse o.21-span diens gedoen.
Die span begin die jaar met ’n ongelooflike totaal van 1 054 verskynings vir Oranje se eerstes. Daarvan het Truné 163 gespeel en Mikkela 154. Truné se eerste verskyning vir die eerste span was reeds in haar gr. 8-jaar.
Oranje het in die vorige sewe jaar, waarin hy telkens nr. 1 in Suid-Afrika was, slegs 8 nederlae in 332 wedstryde gely. Daarin was 1 372 doele aangeteken en 62 is afgestaan vir ’n gemiddelde telling van 4-0.
Oranje se eerste span vir 2020 is: Mikkela le Roux (kaptein), Elné Lourens, Matilé Prinsloo, Leané McLaren, Truné Prinsloo, Sumari Janse van Rensburg, Tuané van der Westhuizen, Ané Janse van Vuuren, Megan-Lee Myburgh, Nicóle le Roux, Marlezé Hoffman, Irmarie Buys, Zoë Erasmus, Naudene Prinsloo en Roné Bresler. Afrigter: Morné Odendaal.

Oranje se eerste span vir 2020 is van links, voor: Matilé Prinsloo, Sumari Janse van Rensburg, Mikkela le Roux (kaptein), Megan-Lee Myburgh, Ané Janse van Vuuren en Tuané van der Westhuizen; agter: Roné Bresler, Truné Prinsloo, Irmarie Buys, Marlezé Hoffman, Nicóle le Roux, Naudene Prinsloo, Zoë Erasmus, Elné Lourens en Leané McLaren.