Die Hoër Meisieskool Oranje het nóg ’n wêreldkampioen in sy geledere.
Die 13-jarige Miché Johns het Saterdag in Florida, Amerika, die triathle-titel vir meisies o.15 op die Biatle en Triathle Wêreldkampioenskappe verower.
Triathle bestaan uit laserskiet oor ’n afstand van 5m, 400m se hardloop en 25m se swemskof met al drie wat vier keer herhaal word. Miché se wentyd was 13 minute en 32 sekondes.
Die gr. 8-leerder het teen mededingers ’n jaar ouer as sy deelgeneem. Miché word in November 14 jaar oud.
Sy volg in die spore van Arina Nicolaisen (gr. 12) wat in Augustus op die Wêreldkampioenskappe vir gestremde junior atlete die 800m in die T38-klas (atlete met ’n serebrale gestremdheid) in ’n rekordgewen het.
Miché was in Junie op die nasionale kampioenskappe eerste in die triatle en tweede in die biathle.
In die naweek se biathle (800m hardloop, 100m swem en weer 800m hardloop) het sy ’n vierde plek behaal.
Miché het ook ’n bykomende drie medaljes verwerf. Sy was ’n lid van die Suid-Afrikaanse span wat derde in die gemengde triathle-aflos was, hulle het tweede in die biathle-spankompetisie geëindig en het die bronsmedalje in die triatle-spankompetisie vermag.
Dit was Miché se derde buitelandse besoek vanjaar. Sy was in Julie in Slowenië vir die Austrian Cup se 5km-opewaterkampioenskap en verlede maand in Hongarye vir die Laserrun Wêreldkampioenskap.

Miché Johns vier Saterdag haar sege in die triathle op die Wêreldkampioenskappe in Amerika.