– Deur Ivanke van Jaarsveld
Dit het als begin by die besef dat sy en haar mede-matrieks nie vir ‘n laaste keer op die bus sou kon klim om Affies vir oulaas die stryd aan te sê nie – ‘n bitter pil om te sluk.
Jana Meyer, kaptein van die eerste netbalspan en onderhoofdogter, het bly dink aan ‘n manier waarop die spesiale interskole tog voortgesit kon word ondanks die wêreldwye Korana-krisis. Dis toe dat die idee van ‘n aanlyn-inter by haar posgevat het.
Aanvanklik het sy net aan ‘n uitdaging vir die twee skole se eerste netbalspanne gedink, maar later besluit om die ander sport- en kultuuraktiwiteite ook te betrek. Kort voor lank was die tennis-, hokkie- en debatspanne, asook die orkes en Con Spirito ook gereed vir die uitdaging.
Jana vertel dat ‘n inter vir haar so besonder is in die sin dat die skool tot ‘n eenheid bind. Kosbare vriendinne word gemaak en baie van dié naweke word stories wat nog lank vertel word. Die geesbou die voorafgaande week, die opwindende ure in die bus op pad soontoe en die wete dat dit saam met jou vriendinne en spanmaats gedoen word.
Daardie toets wat voorlê, word vir ‘n oomblik opsy geskuif en skooltrots seëvier.
Volgens Jana mag dit dalk soos ‘n cliché klink, maar die skree van die kreet en die gepaardgaande trots en passie is absoluut onbeskryflik. Veral so op die paviljoen langs Affies. Regte hoendervleisoomblikke wat vanjaar se aanlyn-inter uiteraard nie kon hê nie, maar dit is verseker ‘n eerste in die geskiedenisboeke, sê Jana.
‘n Vasvrakompetisie is tot die program gevoeg en talle Oranjeniete kon die inter deur die week op sosiale media volg.
“Veral in dié tyd moet mens met idees opkom om ons jaar pret te maak. Mens kan altyd aan alternatiewe dink om by ons omstandighede aan te pas.”

Die advertensie van die aanlyn-inter tussen Oranje en Affies