Sy was nie seker wie voorgeloop het nie, maar toe sy met die blaas van die eindfluitjie die trane op die gesigte van haar afrigter en spanmaats op die plaasvervangersbank sien, het die kaptein van die Hoër Meisieskool Oranje se eerste netbalspan gewéét hulle het pas geskiedenis gemaak.

Oranje is die eerste keer ooit as Vrystaatse netbalkampioen gekroon toe hy Saterdag op die bane van die Hoërskool Sentraal die Tralies in die eindstryd van die Vrystaatdag met 22-21 geklop het. Die toernooi het sy ontstaan in 1984 gehad.

Volgens Surené Fourie, senter en kaptein van die eerste span, was niemand seker wie die wenner was toe die eindfluitjie geblaas het nie. Die telbord was nie tydens die wedstryd in gebruik nie.
“Dis ongelooflike gevoel. Alle eer aan die Here. Hierdie is iets waarna ons gewerk het. En ons het dit gedoen.”

Benewens Oranje se eerste span, is dié skool se o.14A-, o.16A- en o.17A-spanne ook die provinsiale wenners en sal die provinsie in Julie op die Nasionale skolekampioenskap verteenwoordig. Dis ook ‘n eerste vir die skool. Ook Oranje Primêr se o.13A- en o.12A-spanne het koning gekraai.

Dit was ’n merkwaardige ommekeer na wat in die vorige twee ontmoetings tussen die Tralies en Oranje gebeur het. Sentraal, nie-amptelik tans die land se naasbeste span ná sy tweede plek op verlede maand se Wildeklawer-Superskole, het in die stadsliga einde April met 13 doele geseëvier en was in die liga se eindstryd in Mei met 11 doele baas.

Volgens Fourie het hulle die wedstryd met ’n skoon lei benader. “Ons het geglo ons kon uit ons vorige nederlae teen hulle leer. Solank daar ’n eenheid was en geloof in mekaar, was enigiets moontlik.”

Mev. Retha Erasmus wat in haar tweede seisoen as afrigter van die eerste span is, sê “genade onbeskryflik groot is wat tot ons oorwinning gelei het”.
Benewens Erasmus is die ander kampioenspanne se breiers mev. Karlien Janse van Vuuren (o.17), mev. Surita le Roux (o.16) en me. Corné Marais (o.14).
■ Kyk hier hoe die sege gevier is.


Die eerste netbalspan van die Hoër Meisieskool Oranje, nuwe Vrystaatse kampioen, is van links, voor: Carli Olivier, Lisa Cronje, Surené Fourie (kaptein), Enid Bezuidenhout en Minke Kruger; agter: mev. Anne-Marie Klink (spanbestuurder), Janine Moolman, Bianca Pienaar, mev. Retha Erasmus (afrigter), Eilir Lindeque en Lise Bezuidenhout. Foto: Bloemfontein Action Photos

Oranje se o.14A-, o.16A-, o.17A- én o.18A-spanne is almal vanjaar se provinsiale netbalkampioene.