Alri Bosch, ’n gr. 9-leerder aan die Hoër Meisieskool Oranje het tweede geëindig in die junior-afdeling (14 tot 18 jaar) in die Fauresmith Nasionale Uithourit-kampioenskap.
Sy en haar perd, Ratswolf Yadka, het die uithourit wat oor 206km strek die afgelope skoolvakansie ’n sesde agtereenvolgende jaar in ’n tyd van 8 ure en 26 minute voltooi. Alri het ook haar erekleure verwerf.
Alri noem dat die weersomstandighede nie altyd in hulle guns getel het nie en die temperatuur tot -7 ℃ gedaal het.
Slegs 52% van alle perde wat die rit vanjaar aangepak het, kon dit voltooi.
“Om voor te berei vir die uithourit moet jy aandag gee aan jou perd se dieet en vir haar die regte kos gee. Oefening tydens jou voorbereiding is ook baie belangrik en daar moet na jou perd omgesien word,” sê Alri.
Vir haar was die spesiaalste van die ervaring die trots en verligting toe sy die uithourit suksesvol voltooi het.

Alri Bosch en haar perd Ratswolf Yadka wat die Nasionale Uithourit-kampioenskap ’n sesde jaar agtereenvolgens voltooi het.