Om toneel, musiek, dans en ’n orkes te kombineer tussendeur leerders se besige skedules, is volgens die musiekregisseur van die musiekblyspel Annie geen geringe taak nie.
Maar, sê Heinrich Lategan, wat ook die dirigent van die orkes in Annie is, die kinders waarmee hy werk kan enigiets vermag.
Lategan,’n onderwyser aan die Hoër Meisieskool Oranje, het die Broadway-treffer op Oranje se planke gestalte gegee. Dit word van 25 tot 27 Julie elke aand om 20:00 in Oranje se ML-Spiessaal opgevoer.
Dit sal volgens Mariehetta Matthee, voormalige Oranje-skoolhoof en kenner van die skool se geskiedenis, die eerste maal wees wat die skool ‘n musiekblyspel aanbied.
Annie handel oor die weeskind Annie en haar maats en die mense wat haar lewenspad kruis.
“Ons het kinders wat enigiets kan aanpak en ’n sukses daarvan kan maak. Hierdie is so groot soos ’n Annie-opvoering kan kom. In totaal is daar nagenoeg 200 leerders betrokke. Ons het in Oktober aan die werk begin spring.
“Die groot kopseer was om tyd in kinders se skedules vir repetisies te kry. Ek hoop hulle besef die grootsheid hiervan. Hulle gaan oor jare met trots hierop kan terugkyk,” sê Lategan.
Volgens hom het mense aanvanklik vir hom gesê dit gaan nie kan werk nie. “Maar dis wonderlik hoe almal nou inkoop. Onderwysers beloof groot pryse vir leerlinge wat die meeste kaartjies verkoop.”
Lategan sê die belangstelling onder Oranje-leerlinge wat vir oudisies gegaan het, was enorm. “Kinders ken Annie. Daar was ná die oorspronklike, ikoniese rolprent in 1982 twee meer moderne weergawes verfilm, die laaste een in 1999 uitgereik.
“Ons het maklik agt potensiële Annies gesien. Maar almal wou eintlik eerder die kwaai rol van Miss Hannigan speel. Mense geniet mos maar ’n baddie.
“Michelle Hetzel, die regisseur, was verbaas oor die sterk oudisies. Ons moes drie uur gaan sit en besluit oor die rolverdeling.”
Annie en Miss Hannigan word deur onderskeidelik die matriekleerder Anneri Bisschoff en die professionele aktrise Ilne Fourie vertolk.
Kaartjies kos R100 (volwassenes) en R80 (leerlders en pensioentrekkers) en is by Oranje se finansieskantoor beskikbaar. Vir meer inligting bel 051-447-4681 of stuur ’n e-pos na finansies@oranjemeisies.co.za.

Aan die oefen vir Annie. Regs in ligblou baadjie is Heinrich Lategan, die dirigent en musiekregisseur van die musiekblyspel Annie wat deur die Hoër Meisieskool Oranje aangebied word.