Die musiekblyspel Annie wat Oranje in Julie aangebied het, het ’n bewustheid by leerders aangewaker wat die skool se VCSV laat besluit het om na kinderhuise uit te reik.
’n Groep van 30 leerders het verlede week vir ’n tweede keer besoek by Huis Terepea afgelê waar gekuier, gespeel, geverf en met huiswerk gehelp is. Huis Terepa is ’n kinderhuis vir 18 meisies tussen die ouderdomme 1 tot 16.
Volgens juf. Carien James, Oranje se VCSV-organiseerder, het Annie beslis ’n bewustheid by leerders gekweek. Annie se hoofkarakter en ’n paar van haar maats in die verhoogstuk bevind hulle in ’n weeshuis.
“My doel by die VCSV is onder meer om ’n passie wakker te maak om die nood by ander raak te sien. Ná die opvoerings van Annie is harte aangegryp en wou ons dogters graag iewers ’n verskil in ander kinders se lewens probeer maak.
“Ons doen gewoonlik met die VCSV uitreike na verskillende plekke in ’n jaar, maar hierdie weesdogters het vinnig vatplek in ons dogters se harte gekry en hulle wou daarheen teruggaan.
“Ons kon net 30 dogters op ’n slag saamvat en daar was nogal groot teleurstelling onder ’n paar wat nie weer kon saamgaan nie. Die plan is om die kinders volgende kwartaal na die skool te nooi vir ’n piekniek by die swembad. Een van die leerders wil ’n kind ook vir ’n dag gaan haal en by hulle aan huis laat kuier.
“Baie van hulle se grootste behoefte is fisieke aanraking en omgee op watter manier ook al,” sê James.

Simoné Terblanche (links) en Cathrene van Heerden verg die gesiggies van twee weesdogters tydens ’n besoek aan Huis Terepa.

Tayler Slade (links) en Zoë Vermaak sit hand by met die huiswerk.
.