Almal ken die storie van Annie, die rooikopweeskind wat met haar onblusbare lewenslus die wêreld aanpak en selfs die koudste hart kan smelt. Dié musiekblyspel het sy debuut al in 1978 gehad, maar op 25 Julie 2019 het Annie vir die heel eerste keer op die planke van die ML Spies-saal verskyn.
Die hoofrolle is deur plaaslike kunstenaars soos Ilne Fourie (Miss Hannigan), Gertjan Holtzhausen (Oliver Warbucks) en Mario Lategan (Rooster) vertolk. Michelle Hetzel het die regie en Elize Cogle die choreografie behartig.
Michael Garbett het die eenvoudige, maar doeltreffende stel ontwerp en kunsleerders van die skool het met die maak daarvan gehelp.
Die rol van Annie is deur Anneri Bisschoff vertolk. Alhoewel Anneri al in matriek is, het sy die rol van 11-jarige met hope oortuiging vertolk. In die eerste toneel al is die gehoor deur haar stem betower toe sy die lied “Maybe” sing.
Natuurlik moet daar ook melding gemaak word van Annie se maats, die ander weeskinders. Hulle verskaf ‘n aansteeklike energie aan die eerste paar tonele en dans dat die biesies bewe. Lafras Verster, die kostuumontwerper, se weeskindkostuums het tot die treffende uitbeelding van die weeskinders bygedra.
Fourie as die nare Miss Hannigan, weeshuismoeder (of slawedrywer soos die kinders haar ken), was onverbeterlik en gehoorlede het soms gewonder of die weeskinders haar nie dalk regtig vrees nie.
Rehanjo Swanepoel en Louise Loeb van Zuilenberg het geskitter in hulle rolle as onderskeidelik Grace en Lily. Die gehoor het aan Rehanjo se lippe gehang terwyl sy gesing het. Vir ‘n gr. 11-leerder het sy ‘n besonder volwasse stem.
Louise se karakter het gesorg vir hope pret. Byna onherkenbaar in ‘n blonde pruik en piepstemmetjie as die sexy Lily, het Louise se spel menige leerder en onderwyser verras en beïndruk.
Holtzhausen as Oliver Warbucks, die miljoenêr wat vir Annie aangeneem het, is ‘n gesoute akteur en sanger met ‘n strelende slag en dit is duidelik in sy spel te sien.
Lategan het die rol van Miss Hannigan se slinkse broer Rooster gespeel. Die gehoor het omtrent gekraai van die lag toe hy en Lily hulle opwagting maak. Dit is duidelik dat hy en Louise hulle aandeel in hierdie produksie terdeë geniet het.
Die rolverdeling is onvolledig sonder Sandy, Annie se hond. Kevin, die leerders Lize-Mari en Anrike Coetzee se Golden Retriever, het sy verhoogdebuut gemaak en talle harte met sy “natuurlike” talent gesteel, veral toe hy viervoet voor die hondevanger (Magé Troskie) vasgesteek het en sy hom moes saamgesleep.
Mnr. Gerhardus Bosch as president Rooseveldt het vir die leerders baie vermaak verskaf.
Wat Annie vir my so besonders gemaak het, is dat dit ‘n geleentheid aan ongeveer 120 dogters gegee het om op die verhoog te verskyn. Die meisies het hulle bes gedoen, ongeag hoe groot of klein hulle rolle was. Elkeen wat deel was van hierdie produksie, oud of jonk, het ongelooflik baie tyd, moeite en passie in die produksie ingestort, en dit is wat dit so suksesvol gemaak het.
In ‘n vorige onderhoud het Anneri verduidelik dat Annie ‘n meisie is wat nie toelaat dat enigiets of iemand in haar pad staan nie. Net so het mnr. Heinrich Lategan (musiekonderwyser), ten spyte van teenstand, vasgeklou aan sy droom om Annie te verwesenlik. Onder sy bekwame leiding was Annie ‘n professionele vertoning wat groot genot aan konsertgangers verskaf het.

Rehanjo Swanepoel (links) en Anneri Bisschoff het beïndruk met hul toneelspel en sangstemme.