Om die naamrol van die musiekblyspel Annie te speel, is vir Anneri Bisschoff ‘n droom wat bewaarheid word. Sy het ‘n paar vrae aan Michelle Strydom beantwoord.

Watter karakter vertolk jy? Ek speel Annie, ‘n 11-jarige weeskind met die kenmerkende eienskap dat sy kan uitstyg bo haar omstandighede deur ‘n droom te hê. Sy sal alles in haar vermoë doen om dít te verwesenlik sonder dat iemand dit kan regkry om haar te stuit.
Hoe voel dit om die hoofkarakter van Annie te speel? Oh boy! Sy is ‘n reuse-voorreg om te speel. Sy was onverwags, maar een van die beste dinge wat met my kon gebeur. Ek droom al van my vroeë laerskooldae af om iewers in my lewe deel van hierdie musiekblyspel te wees; die ou klassieke rolprent wat álmal ken, lê al jare lank baie diep in my hart ingekruip.
Wat is jou gunsteling deel sover met die voorbereiding van Annie? Die feit dat sy een van die grootste uitdagings is wat ek nog in die teater gehad het. Hoe meer kompleks ‘n rol, hoe lekkerder en meer leersaam die ervaring. Sy is ‘n bielie van ‘n karakter om aan te pak! Die opbouende kritiek en raad wat ek kry, is wat die produksie die moeite werd maak en wat my laat ontwikkel. Ek streef daarna om te bly groei en nooit te stagneer in die kunste nie. Die heel lekkerste is dat nie één dag of repetisie dieselfde is nie, élke dag duik een of ander verrassing, wenk of nuwe brokkie kennis op.
Wat is jou gunsteling boodskap van Annie wat jy hoop die mense sal raaksien? Jy is nooit te oud om lighartig te wees en selfs soms ‘n bietjie ligsinnig nie. Jy is nooit te ryk, te belangrik of te goed om ‘n hart vir ander mense te hê nie. Jou werklikheid is nooít te groot om plek te maak vir ‘n droom nie. Maar ook dat jou droom jou somtyds na ‘n ander pad lei as wat beplan is, en dat jy dan aangenaam verras sal wees deur die eindbestemming daarvan.
As jy een ding van Annie kan verklap, wat sal dit wees? Daar gaan ‘n werklike hond op die verhoog wees.
Hoe is die span saam met wie jy werk? Dis nie vanselfsprekend om saam met professionele kunstenaars soos Ilne Fourie, Gertjan Holtzhausen en Mario Lategan te werk en soos een van hulle behandel te word nie. Ek drink elke wenk in wat ek moontlik deur hulle spel kry. Dis spesiaal om te weet ek deel ‘n baie unieke passie en liefde vir die teater en toneelspel met hulle. Ek het soveel respek vir Michelle Hetzel, ons regisseur, se insig in die stuk, haar geduld en die manier waarop sy die akteurs hanteer. Ons het ‘n wonderlike groep. Om met mense te werk wat ook opgewonde oor die vooruitsig is, laat die repetisies meer soos ontspanning en minder soos repetisies voel.
Hoeveel ure sit julle min of meer in per week in om hierdie produksie perfek te maak? Sommige van ons repeteer al van Oktober verlede jaar af. Vanaf Januarie oefen die groep elke Maandag vir minstens twee uur wat die choreografie twee keer per week soggens voor skool uitsluit. Soos ons nader aan die opvoering kom, het die skedule bedrywiger geraak en van die eerste week van die derde kwartaal af word daar elke aand tussen drie en vier uur gerepeteer. Onder die top van die ysberg, die deel waarvan slegs die betrokkenes bewus is, lê bitter lang dae, weke en maande se voorbereiding.
Hoekom moet iemand na Annie gaan kyk? Dis my mening dat ‘n mens alles moet gaan kyk, bywoon en aanpak wat jy moontlik kan. Om gereeld ‘n goeie dosis van toneelstukke in te kry verbreed jou horisonne en vergroot jou verwysingsraamwerk. Dit verseker ‘n afgeronde karakter en bevorder emosionele intelligensie. As hierdie toneelstuk minstens een gehoorlid se ingewikkelde, selfs ietwat swartgallige uitkyk oor die lewe kan verander, het Annie haar ideaal verwesenlik.

Anneri Bisschoff (regs) wat die naamrol in die musiekblyspel Annie vertolk saam met Rehanjo Swanepoel wat Grace speel.