Wêreldklas, awesome, fantasties, pragtig, uitstekend, loutere plesier, ’n belewenis, hoendervleis-oomblikke, puik, bravo en briljant is van die byvoeglike naamwoorde wat gehoorlede gebruik het om hulle ervaring van die musiekblyspel Annie te beskryf.
Die Hoër Meisieskool Oranje het verlede week (25 tot 27 Julie) drie opvoerings van hierdie Broadway-treffer elke aand voor gemiddeld 600 mense opgevoer.
Die musiekblyspel was ’n eerste in die skool se geskiedenis.
Dit is in samewerking met Dalro (wat lisensies vir kopiereg-beskermde werk verkry) aangebied waarvolgens die oorspronklike Engels teks en musiek gebruik moes word.
Die spelers, sangers en dansers is deur ’n 21-stuk orkes, begelei deur Heinrich Lategan, ondersteun.
Sowat 200 leerders was betrokke en het etlike maande lank voorberei.
Die professionaliteit van die aanbieding, die akteurspel, sang en orkes is uitgesonder.
“Ek is bly dis so goed ontvang. Ek het dit verwag,” sê Michelle Hetzel, die regisseur.
“Dit was ’n bietjie meer uitdagend met kinders, maar as jy hard werk sal jy suksesvol wees. Die talent was regtig goed. Ek was by die oudisies al verbaas hoe goed die meisies is,” sê Hetzel.
“Dit was ’n ongelooflike produksie wat alle verwagtinge in ’n skoolsaal oortref het,” sê Sarel Coetzee. “Heinrich Lategan (orkesleier en musiekregisseur) het die produksie meesterlik laat leef met sy musiektoorkuns.”
Volgens Annake Herbst het dit gevoel of sy in ’n oorsese produksie sit. “Ek het nog nooit so iets beleef nie.”
Louise Oosthuizen sê vir haar twee volwasse dogters wat Annie “die hoogtepunt van hul lewe”.
Vir Surinda Viviers-Fourie was dit ook “die belewenis van haar lewe”. “Ek sal dit oor en oor kyk.”
Elsabet Coetzee sê Annie is iets wat haar kinders vir die res van hulle lewens gaan onthou. “Dit was 300% beter as wat ek ooit kon dink.”
Volgens die aktrise Ilne Fourie wat die nare karakter Miss Hannigan vertolk het, was sy hoogs beïndruk deur die meisies se talent en entoesiasme. “Ek staan verstom deur hulle ongelooflike talent, pragtige gesindhede en die geweldige passie en energie waarmee hul alles aanpak. Ek is so trots op hulle harde werk en sal enige tyd weer saam met elk die verhoog deel.”
Sy beskryf Annie as ’n hoogtepunt. “Oranje het in so ’n kort tydjie diep in my hart gekruip. Dankie vir hierdie kosbare ervaring. Beslis ’n hoogtepunt vir my.”

Die weeskinders in die musiekspel Annie, gespeel deur leerders aan die Hoër Meisieskool Oranje doen hulle dinge op die verhoog.