As die treffer Tomorrow uit die produksie van Annie jou laat glimlag en saamsing, moenie die Hoër Meisieskool Oranje se weergawe daarvan misloop nie.
Oranje se produksie word in samewerking met DALRO in die volledige oorspronklike weergawe met ’n 21-stuk orkes en ’n geselskap van 120 leerders aangebied. Die vertonings, van 25 tot 27 Julie begin elke aand om 20:00 in die ML-Spiessaal by Oranje.
Die hoofrolle word deur plaaslike kunstenaars soos Ilne Fourie (Miss Hannigan), Gertjan Holtzhausen (Oliver Warbucks) en Mario Lategan (Rooster) vertolk.
Anneri Bisschoff, ’n matriekleerder, speel Annie. Rehanjo Swanepoel en Louise Loeb van Zuilenburg, ook albei leerders van die skool, speel onderskeidelik Grace en Lily.
Anneri en Rehanjo is hoogs talentvolle spelers wat op die Vrystaatse Kunswedstryd vir hul prestasie vereer is. Anneri het die beste sangitem gelewer en Rehanjo het ’n spesiale toekenning vir voordrag en toneel ontvang. Anneri het ook vroeër vanjaar in die gemeenskapsteaterstuk Hannah gespeel.
Michelle Hetzel behartig die regie en Elize Cogle die choreografie. Heinrich Lategan is die musiekregisseur en dirigent. Michael Garbett het die stelontwerp en Lafras Verster die kostuumontwerp gedoen.
Die musiekblyspel vertel die verhaal van die weeskind Annie en haar maats wat in ’n weeshuis onder die nare Miss Hannigan deurloop. Annie se kruis met dié van Oliver Warbucks, bekende miljardêr wat aanvanklik ’n weeskind vir die Kersvakansie wil aanneem, en Grace, sy sekretaresse. Annie kruip egter vinnig in almal se harte en met Warbucks en Grace se hulp word ’n landswye soektog na haar ouers begin.
Gehore kan na gewilde nommers soos “Tomorrow”, “Hard knock life”, “I think I’m gonna like it here” en “I don’t need anything but you” uitsien.
Annie is deur Martin Chernin (lirieke), Charles Strouse (musiek) en Thomas Meehan (teks) geskryf. Die eerste uitvoering op Broadway in 1977 is deur baie ander suksesvolle produksies gevolg en spog met verskeie toekennings, onder meer sewe Tony Awards (1977), sewe Drama Desk Awards (1977) en ’n Grammy (1978).
Kaartjies kos R100 (volwassenes) en R80 (leerlders en pensioentrekkers) en is by Oranje se finansieskantoor beskikbaar. Vir meer inligting bel 051-447-4681 of stuur ’n e-pos na finansies@oranjemeisies.co.za.