’n Rekordaantal atlete van die Hoër Meisieskool Oranje is in die Vrystaatspan ingesluit vir die Nasionale Hoërskole-kampioenskappe later vandeesmaand.
Veertien Oranjeniete bevind hulle in die span wat van 19 tot 21 Maart in Boksburg meeding. In 2017 en 2019 het Oranje tien atlete in die span gehad, maar voor dit nooit meer as nege nie. In 2018, 2016 en 2000 het nege atlete die span gehaal.
Die 14 is Charné Wansbury (100m en 200m), Germarie Spershott (90m-hekkies, 300m-hekkies en spiesgooi), Zanelle Jansen van Rensburg (100m-hekkies en 400m-hekkies), Roline Louw (200m en 400m), Marilet Blom (200m en 300m-hekkies), Alri Bosch (400m-hekkies), Carlé Stockenström (400m en 800m), Miché Johns (1 500m-hindernis), Lienke Snyman (5 000m), Marjanell van Dyk (diskus), Wilana Wolfaardt (hamergooi), Magé Troskie (hoogspring), Cora Groenewald (verspring) en Johani van Tonder (verspring, hoogspring en driesprong).
Dis ’n vyfde agtereenvolgende jaar wat Lienke en Cora hulle provinsiale kleure op hoërskoolvlak verwerf en ’n derde keer vir Johani, Alri en Zanelle. Johani en Germarie is twee van net ’n handjievol atlete wat vir drie items gekwalifiseer het.
Johani is die enigste Oranjeniet wat die vorige drie jaar op die SA’s ’n goue- of silwermedalje kon wen. Sy was verlede jaar die o.15-kampioen in die driesprong.

Die 14 leerders van die Hoër Meisieskool Oranje in die Vrystaat-atletiekspan is van links, voor: Marilet Blom, Carlé Stockenström, Miché Johns, Alri Bosch, Cora Groenewald en Zanelle Jansen van Rensburg; agter: Germarie Spershott, Charné Wansbury, Magé Troskie, Roline Louw, Johani van Tonder, Marjanell van Dyk en Lienke Snyman. Afwesig: Wilana Wolfaardt.