Lise Bezuidenhoudt, vanjaar se hoofdogter by Oranje, het ’n beroep op haar medematrieks gedoen om mekaar te onthou vir wie hulle is.
Sy het in haar toespraak by verlede week se matriekafskeid gesê karakters sal onthou word, nie leerders se klasgemiddeld, watter voertuig iemand as ’n verjaardaggeskenk gekry het of hoe mooi die dogters Donderdagaand by die Monte Bello-landgoed gelyk het nie.
“Behou karakter, want dit is die een onderskeiding wat vir jou sal aanhou deure oopmaak. Mag ons elkeen onthou vir wie sy is,” het Lise gesê.
Juf. Anne-Marie Klink, skoolhoof, het die dogters aangemoedig om die lewe ná skool voluit aan te pak.
“Julle het by verskillende stasies aangedoen – by kleuterskool, preprimêr en laerskool gestop voor julle in gr. 8 by Oranje aangesluit het. By elkeen van hierdie stasies het julle tasse gepak met verskillende tipes emosie – vreugde, bekommernisse, hartseer, opgewondenheid en vrees.
“In 2015 het julle die trein vir ’n warm lugballon verruil. Vanaand sluit julle jul skoolloopbaan met ’n besonderse aand af. Ek glo dat almal van julle in hierdie pragtige rokke sweef.
“Elkeen se vlug was ’n unieke belewenis. Die volgende lugballon is nou reg om te vertrek. Daar is hartseer van afskeid en opwinding van ’n nuwe en onbekende reis wat begin. Pak julle bagasie, maak reg vir die nuwe, opwindende lewe daarbuite. Stop by jou geleenthede, ontwikkel jou volle potensiaal.
“God gee aan ons vlerke om te vlieg. Pak jou lewensreis saam met ons ewigheidsbestuurder aan. Maak nie saak wat jou pad inhou nie, God hou jou styf in Sy vaderhand vas. Wanneer jy weer ’n warm lugballon sien, dink aan 2019 se tema van die matriekafskeid – sweef.
“Mag selfrespek, waarheid, eerlikheid, eenheid en fyn vroulikheid julle vergesel op julle reis wat voorlê. Lewe voluit, vooruit,” het Klink in haar toespraak gesê.
Sy het ook die gr. 12 se ouers bedank.
“U kan vanaand met ’n glimlag en met dankbaarheid na u dogter kyk. U het haar teleurstellings saam ervaar en geleer hoe om dit te verwerk. Dankie vir u ouerskap om haar voor te berei vir die onbekende en soms wrede wêreld daarbuite.”

Sommige van die matrieks en hulle metgeselle.

Lise Bezuidenhout, Oranje-hoofdogter van 2019.