Haar prestasies was so ’n wavrag vol dat dit op twee sertifikate gedruk moes word. En dit was so byna nodig vir ’n derde een. Rehanjo Swanepoel, ‘n gr. 11-leerder aan Oranje het vanjaar verstom met die aantal aktiwiteite wat sy aangepak én daarin presteer het. Sy was boonop haar graad se dux-leerder (94,3%).

Dit het op die prysuitdeling 2 minute en 20 sekondes geneem om al haar prestasies af te lees (sien video). Sy het die vakprys vir beste prestasie in vier vakke (dramatiese kuns, musiek, visuele kuns en wiskundige geletterdheid) en ’n spul wisseltrofees (beste senior redenaar, beste prestasie in public speaking, uitsonderlike kultuurprestasies en beste in teken) ontvang.

Rehanjo het toneel gedoen (’n hoofrol in Annie), as stemkunstenaar opgetree, was ’n klankoperateur, het in die koor en Con Spirito gesing (kyk hier hoe sy vir Helmut Lotti sing), was ’n lid van die simfonieorkes en marimbas en ’n nasionale wenner in redenaars (lees daaroor hier).
Op die Vrystaatse Kunswedstryd, waar sy die ATKV-toekenning verower het vir die beste hoërskole-presteerder in die afdeling voordrag en toneel, het sy in tien items minstens ’n A++ simbool behaal.

Sy bieg dat sy maklik vir alles ja sê. “Ek wil niemand teleurstel nie. Maar in dieselfde asem is ek lief vir alles wat ek aanpak en wil 100% daarin gee.”
Volgens haar is deeglike beplanning en prioritisering kardinaal. “Ek gee vir myself ’n deadline vir alles en neem dinge dag vir dag. Ek vra myself gereeld af wat nóú die belangrikste is. In vakansies doen ek niks. Dan kan ek nogal nee sê.”

Volgens haar het sy dit haar ten doel gestel om vanjaar die dux te wees.
“Ek het besluit ek gáán my graad se dux-leerder wees, al het dit my ’n bietjie doodgemaak. Ek moet sê dit was nogal lekker toe my vakke tydens die prysuitdeling gelees is. ’n Mens kan die dux-leerder met kunsvakke wees.”

Volgens Rehanjo belê sy nou reeds in haar toekoms. “Ek wil aan die The Juilliard School vir die uitvoerende kunste in New York gaan studeer en sal graag ’n bestaan uit drama wil maak.
“Ek glo ek moet soveel harder werk en beter as die Amerikaners presteer om myself die beste moontlike kans te bied om aan die kunsskool aanvaar te word.”
Aanstaande jaar gaan sy ’n bietjie afskaal. “Ek wil ’n rustige jaar hê en my mariekjaar geniet. Ek dink ek het genoeg inskrywings op my CV.”

Rehanjo Swanepoel het ‘n indrukwekkende lys prestasies oor die laaste jaar behaal.