‘n Spannende tennisstryd het hom Vrydagoggend tussen Bloemhof en Oranje afgespeel.
Vroegoggend het die o.19B en o.15A-spanne die aksie ingelei.
Die o.15’s was aanvanklik baie gelyk, maar uiteindelik was dit Bloemhof wat teen middagete met 9-3 geseëvier het. Baie van hierdie leerders is in gr. 8 en kon hierdie jaar vir die eerste keer die gees van ‘n Bloemhof-interskole beleef.
Bloemhof se tweede span was op die dag die beter span en kon daarin slaag om die enkels met 7-1 te wen. Dit was egter ‘n baie goeie geleentheid vir dié tennismeisies van Oranje om teen sterk kompetisie speelkans te kry.
En dan natuurlik die groot stryd om die tennistitel vir die naweek. Die eerste tennisspanne het met groot trots op die baan gestap mekaar behoorlik die stryd aangesê. Tennis van hoogstaande gehalte is deurgaans opgedis. In die enkels het die skole met vier seges elk geëindig nadat Liné Greyling haar wedstryd gewen het om die punte gelyk te maak. Dit hang toe van die dubbels af om te bepaal watter span met die louere sou wegstap.
Ondersteuners en ouers van die ´Bosch, maar ook van Bloem het saamgedrom om die meisies aan te moedig. In die dubbelspel lyk dit aanvanklik of sake weer gelykop gaan eindig. In ‘n finale en beslissende westryd loop Liné en Kristen Fichardt op die baan in ‘n poging om ’n sege of ten minste ’n gelykop uitslag vir hulle span te bewerkstellig. Hulle word bygestaan deur ‘n reuse-skare van Oranjeniete en hul ouers.
Hierdie dogters haal behoorlik uit en speel ‘n valbylpot waarin die ewewig uiteindelik na Bloemhof se kant leun. Bloemhof tree as wenners uit die stryd, maar dit is ‘n feit dat albei hierdie spanne ongelooflike veggees getoon het en natuurlik geniet het.
Albei hierdie skole het ‘n ryke tennisgeskiedenis wat voortgesit is.

Oranje se eerste tennisspan is van links Carmen Fichardt, Gina Moolman, Linge Steenkamp, Liné Greyling, Inge Greyling, Gizelle Naudé, Nicole Twigge en Kristen Fichardt.