Hy het ’n musiekvlam by dogters aangesteek en sy ’n siel aan Oranje se musiekdepartement gegee.
Só is mnr. Heinrich Lategan en mev. Brigitte Botha Maandag tydens ’n afskeidsgeleentheid gehuldig. Sien video.

Mnr. Lategan verlaat die skool ná vier jaar as musiekonderwyser om sy loopbaan te bevorder. Lategan, wat die laaste drie jaar die koor se begeleier was, sal steeds by die skool se orkes en marimbas betrokke wees. Luister hier na ’n onlangse optrede.

Juf. Botha, wat aftree, was sedert middel 1999 die Duitse-onnie waartydens sy die koorleier (vir ses jaar), koorbegeleier en koororganiseerder was. Sy het bygedra tot die groei van Duits as vak by Oranje en het verskeie oorsese Duitsland- en koortoere vir die leerders gereël.

“Juffrou het met ’n wonderlike musiektalent ’n siel aan Oranje se musiekdepartement kom gee,” het Rehanjo Swanepoel, ’n gr. 11-leerder tydens die afskeid gesê.
“Dis net juffrou wat die geduld en moed het om 79 kinders slaggereed op ’n vliegtuig te laat klim en te sorg dat ’n hele toer soos ’n klankryke simfoniekonsert kan klink.
“Met juffrou se entoesiasme en goue hart gee juffrou lewe aan Oranje se kultuur. Juffrou het op soveel terreine ’n onuitwisbare impak gemaak wat elke Oranje dogter se lewe verryk het.
“En die klanke uit die duitse klas, ‘Zunke boodsdag viel gluck…’ sal altyd Oranje se gange vul. Ons wens vir juffrou ’n crescendo-lewe toe.”

Rehanjo het ook vir mnr. Lategan bedank vir sy gawe om talent onder die dogters te identifiseer.
“Meneer het ’n musiekvlam kom aansteek by so baie dogters wat nie eens besef het dat daar ’n musiektalent binne in hulle opgesluit is nie. Meneer was soos ’n musieksleutel wat musiekdeure vir ons kom oopsluit het.
“Meneer het die orkes laat groei tot een van die mooiste orkeste in die stad. Die marimbas is die plek waar ons al ons frustrasies kan uitslaan, so dit was beslis musiekterapie,” het sy gesê.

Volgens juf. Anne-Marie Klink, skoolhoof, was die musiekblyspel Annie ’n klinkende sukses danksy mnr. Lategan se aandeel daarin. Hy was die musiekregisseur en dirigent,
“Dis ongelooflik wat jy met die orkes vermag het. Dankie dat jy musiek by Oranje laat lewe het en die talent by die kinders raakgesien het. Gaan leef jou passie uit. Jy is ’n bondel talent.”
Juf. Klink het vir juf. Botha vir haar ondersteunende rol bedank.
“Sy het met haar passie vir Duits ’n wêreld oopgesluit, nie net deur die toere nie, maar ook met ander inisiatiewe wat sy begin het. As kollega, vriendin, raadgewer en rolmodel gaan ons juf. Botha baie mis.”

Juf. Botha het gesê sy het wonderlike jare by Oranje gehad en het die skool as ’n baken in onderwys in Suid-Afrika beskryf. “My boodskap aan julle is om eerlik met jouself te wees. Jy moet jouself vind en dit uitleef wat jy wil wees. Leef in liefde. Daar is niks wat so wonderlik is soos liefde nie. Dis ’n geskenk wat die Here vir ons gee wat ons met mekaar kan deel.”

Mnr. Lategan het ’n kort afskeidsboodskap gehad: “Dankie vir almal wat geduldig genoeg was om met my malligheid saam te leef.”

Mnr. Heinrich Lategan en mev. Brigitte Botha met hulle afskeidsgeskenke. Juf. Botha het onder meer ‘n briefie van al die gr. 9-leerders gekry.

Mev. Brigitte Botha en mnr. Heinrich Lategan tydens ‘n afskeidsgeleentheid.