Chané Nel van die Hoër Meisieskool Oranje is die land se slimste gr. 10-leerder in rekeningkunde en ekonomie.
Trouens, die slimste onder diegene wat vir die Nasionale Olimpiade vir rekeningkunde, ekonomie en besigheidstudies ingeskryf het.
Chané het eerste geëindig in rekeningkunde met ’n persentasie van 87 en was ook die beste gr. 10-presteerder in ekonomie met 77%. Oranje se naasbeste presteerder was die matrikulant Mia Pretorius wat 80% in rekeningkunde behaal het.
Volgens mev. Ilse Olivier, onderwyser in ekonomiese- en bestuurswetenskap (EBW), rekeningkunde en ekonomie, is dit die eerste keer sedert sy in 2007 by Oranje begin onderrig het, wat ’n leerder van die skool in die olimpiade koning kraai. Dis vanjaar die eerste maal wat die olimpiade in al drie vakke aangebied word en ook die eerste keer wat gr. 10’s betrek word.
“Dit is ’n ongelooflike prestasie en ek is so trots op haar. En baie dankbaar vir al die genade,” sê Olivier. Volgens haar handhaaf Chané vanjaar ’n gemiddeld van 95% in ekonomie en 97 % in rekeningkunde.
Leerders moes 70 % in die eerste ronde behaal het om na die tweede een deur te dring. Twaalf Oranjeniete het dit na die tweede ronde gemaak.
Chané sê sy het aanvanklik in gr. 7 nie baie erg aan EBW gehad nie.
“Ek kon dit nie lekker snap nie. Selfs nadat ons meneer tien keer verduidelik het wat die verskil tussen ’n bate en ’n las is, kon ek dit steeds nie verstaan nie. Maar in gr. 8 het dit net gekliek en vandaar het dit lekker geword.
“Rekeningkunde is ’n luister-vak. Ek probeer om dan elke dag my huiswerk te doen en baie te oefen. Ekonomie, wat ek as ’n ekstra vak neem, is weer baie leerwerk,” sê sy.
Benewens akademie, is Chané ook ’n lid van haar skool se debatspan, sy duik, beoefen gimnastiek, sing koor en speel dwarsfluit.

Chané Nel van die Hoër Meisieskool Oranje is die gr. 10-wenner in die Nasionale Olimpiade vir rekeningkunde, ekonomie en besigheidstudies.