’n Voertuig wat teen 180km/u ry, skerp draaie neem en stofwolke opskop behoort baie gr. 9’s af te skrik, maar nie vir Charlize Visser nie.
Dié gr. 9-leerder aan Oranje het voorverlede naweek in Stella die eerste keer haar sit as navigeerder tydens ’n veldwedren ingeneem. En dit het in ’n oorwinning vir haar en die bestuurder langs haar, haar pa Chris, geëindig.
Dit was op die Stella 250-veldwedrenkampioenskap in Stella.
Daar was sowat 45 deelnemers waarvan tien in die nasionale kampioenskap meeding.
Volgens Chris het sy dogter lank reeds gevra sy wil saamry en het sy nou haar kans gekry.
“Dit het goed gegaan, baie goed,” sê Chris, ’n viermalige Suid-Afrikaanse kampioen en wenner van die onlangse internasionale Toyota-1000-woestynren. Hy het ook al ’n Dakar-wedren onderneem.
Die Stella-wedren oor 270km het egter nie altyd klopdisselboom verloop nie.
“Jou navigeerder sit met ’n roeteskedule wat die pad en instruksies aandui, asook met ’n GPS. Charlize het op ’n kol naar geword en boonop het die roeteskedule uit haar hand geval en kon sy dit nie weer optel nie. Sy sou haar moes losgordel om dit by haar voete op te tel, maar dit sou te gevaarlik wees, want jy teen tye teen 180km/u.
“Sy moes dus die laaste 80km net met die GPS navigeer. Sy het waarskynlik naar geword van die hele tyd se op en af kyk, Dit kon ook weens die spanning wees. Sy was verskriklik op haar senuwees,” verduidelik haar pa.
Hulle het die wedren in ’n Hilux-bakkie aangedurf wat volgens hom gespesialiseerd is vir enige pad in die wêreld.
Volgens Chris is navigeer g’n kinderspeletjies nie. “Dis nie net vir inklim en saamry nie. Jy moet op jou voete dink. Dinge gebeur vinnig. Ek het Charlize vooraf touwys gemaak met goed soos om ’n band om te ruil. Ons kan dit binne ’n minuut en 30 sekondes doen. Dit was ’n lekker roete, maar ons moes kophou.”
Volgens hom moet ’n mens oor ’n lisensie beskik om te kan navigeer. “Ek het vir Charleze ’n daglisensie bekom. Wanneer dit ’n nasionale kampioenskap is, soos aanstaande naweek in Lichtenburg, sal sy egter nie weer kan saamry nie aangesien sy minderjarig is.”

Charlize Visser wat onlangs die eerste keer ‘n navigeerder in ‘n veldwedren was.
Só is daar gery: