– Deur Lehzé Nieuwoudt

Baie gesinne het tydens die grendeltydperk begin om saam die oefentekkies aan te trek, maar Charlotte Doubell (matriekleerder) en drie van haar gesinslede doen dit lank reeds.

Trouens, al vyf lede van die gesin het al een of ander uithousport beoefen, hetsy draf, fietsry of swem.

Charlotte, haar oudste broer, Christiaan, en pa, Tommie, het onlangs die virtuele Comrades gehardloop en sy het ’n afstand van ’n halfmarathon (21.1km) kafgedraf. Die drié het ook verlede jaar die Kaapstad-fietstoer voltooi.
“My jongste boetie (David) is baie aktief, maar doen meer skolesport. Hy hardloop wel die Parkrun saam met ons. My ma (Isolde) het al die Midmarmyl ’n paar keer geswem, so sy is ook deel van die familie-uithousport,” sê Charlotte.

Volgens haar is haar pa, ’n kranige Comrades-atleet, die groot motivering agter die uithousport en hy is vir haar ’n groot inspirasie.
“Uithousport is ’n goeie geleentheid vir pa-en-dogter-tyd. Dit is iets lekkers waarin ons altwee belangstel,” sê Charlotte.

Op skoolvlak is Charlotte meer bekend as ’n kultuurdier. Sy doen redenaars, sing in die koor, speel dwarsfluit in die orkes (sy speel ook klavier), skryf artikels vir die skool se sosiale media, maar sy speel ook netbal en hokkie en het in 2019 ’n erewapen en goue sertifikaat vir akademie ontvang.

“Sport en kultuur is albei ’n groot passie. Ek kan nie regtig ’n gunsteling uitsonder nie. Ek geniet alles omdat dit so uiteenlopend en uniek is. Ek is van jongs af lief vir musiek. Maar dis vir my baie lekker om deel van ’n span te wees.
“Ek sukkel nogal om gedraf te kry in die week. Ek draf meestal naweke, maar het al een of twee keer saam met die hardloopklub in die oggende probeer hardloop of ek oefen ook soms in die gimnasium om aan die gang te bly.”

Charlotte Doubell, matrikulant, en haar pa, Tommie, het onlangs die virtuele Comrades aangedurf. Vier van die gesinslede draf graag saam.