“Just keep swimming, just keep swimming…” is die bekende woorde van die vis Dory in die rolprent Finding Dory.
Chloë le Roux, ‘n gr. 9-leerder aan die Hoër Meisieskool Oranje neem dít beslis ter harte.
Sy het onlangs in Toulouse, Frankryk aan die EDF Aqua Challenge in die 5km-opewaterswem geskitter.
Om daarvoor te kwalifiseer moes jy onder die top 5 in jou ouderdomsgroep op die nasionale opewaterkampioenskappe geëindig het.
Sy het in Frankryk tweede in die junior-afdeling (15 tot 18 jaar) gekom sowel as ’n derde plek onder al die ouderdomsgroepe losgeswem. Haar tyd was 0:56:19 wat haar persoonlike beste is. Dit was ook die tweede agtereenvolgende jaar wat sy oorsee in die 5km-opewaterswem deelgeneem het. In 2018 was sy na Slowenië.
In Frankryk het hulle nie baie plekke besoek nie, maar wel by ‘n paar onbekende kerke aangedoen.
Chloë oefen elke week 13 uur. Sy is versot op water en swem. Haar liefde vir die sport het ontwikkel toe sy nog baie klein was en geleer swem het.
Ná ‘n lang oefening is die lekkerste bederf sushi of ‘n dubble thich milkshake by Steers. Haar gunsteling-swemdrag is Arena en Nike. Chloë is een van vier sussies. Sy is die tweede oudste. Haar ma en pa het albei op hul dag in sport uitgeblink. Die appel val dus in die Le Roux-woning nie ver van die boom af nie.
“My ouers (Ollie en Mariska) is baie ondersteunend en moedig my altyd aan,” sê Chloë.
“My doelwit is om volgende jaar by die senior nasionale kampioenskappe die kwalifiserende tyd vir die Olimpiese Spele te swem. Ek kan dit doen, maar ek oefen nog nie so hard nie. Die mense wat sulke tye swem oefen 11 keer ‘n week! Op die oomblik wil ek net al my tye verbeter.”

Chloë le Roux