Twee jong swemmers van die Hoër Meisieskool Oranje het in die afgelope tyd hulle swemslag in die opewater in die buiteland gaan vertoon met veral die oudste van die twee wat blink vertoon het.
Chloë le Roux, ’n gr. 9-leerder het as ’n lid van die Suid-Afrikaanse opewater-swemspan in die French Cup in Toulouse, Frankryk tweede in die junior-afdeling (15 tot 18 jaar) van die 5km-opewaterkampioenskap geëindig, sowel as ’n derde plek onder al die ouderdomsgroepe losgeswem.
Le Roux se tyd op 30 Junie was 0:56:19 wat haar persoonlike beste is.
Miché Johns (gr. 8) het die afgelope Saterdag in Slowenië in die Austrian Cup se 5km-opewaterkampioenskap vyfde in die jeug-afdeling (13 tot 14 jaar) klaargemaak. Die 13-jarige was tiende onder al die ouderdomsgroepe in ’n tyd van 1:11:48.
Albei word deur Brent Holmes van die Neptunes-swemklub afgerig.
* In die afgelope skoolvakansie het verskeie swemmers aan ’n winterkampioenskappe in Port Elizabeth deelgeneem.
Guilma Lausberg het 3 silwer- en 5 bronsmedaljes in haar 12 swemitems behaal. Sulinke van den Berg het in haar 10 items 4 goue, 1 silwer- en 3 bronsmedaljes ingeoes.
By Tuks se kortbadgala in Pretoria het Lize-Marie Davidson in haar 8 items 3 goue en 1 bronsmedalje vermag en Chloë le Roux 1 goue, 2 silwer- en 3 bronsmedaljes in 9 items.

Chloë le Roux (links) en Miché Johns van die Hoër Meisieskool Oranje wat onlangs internasionaal in ’n 5km-opewaterswemkampioenskap meegeding het.