Chrisli Markram, ’n gr. 11-leerder aan die Hoër Meisieskool Oranje het net ’n enkele dag gehad om afskeid van die skool en sy onderwysers te neem voor sy haar skoolloopbaan in Amerika gaan voltooi.
Sy het verlede week, die aand voor haar laaste skooldag, bevestiging van die Interlochen Center for the Arts in Michigan, Amerika ontvang oor ‘n beurs waarvoor sy aansoek gedoen het.
Dit het haar met net twee weke gelaat om alles gereed te kry om die 28ste daar te land.
Die kunsskool se akademiese jaar begin op 2 September. Chrisli gaan haar gr. 11-jaar daar oordoen.
“Ek het aanvanklik net ’n beginnersbeurs ontvang wat ná twee verdere aansoeke elke keer vergroot is. Die bedrag wat ons gaan moet betaal, is klein in vergeleke met die volle skoolgeld,” het Chrisli (16) gesê.
Volgens haar is drama haar loopbaankeuse en reken sy hierdie is die perfekte geleentheid om haar daarop voor te berei.
“Ek glo dis die beste keuse en gaan my die beste toerus om ’n sukses van my loopbaan te maak en my die beste kans bied om toelating daar tot ’n universiteit te kry.
“Die skool is gekonsentreerd op die kunste en dit skep ’n omgewing waarin jy jou talente kan ontwikkel. Ek gaan my in my gr. 11-jaar op kreatiewe skryfwerk toespits en wil dan in matriek musikale teater doen. Dis gaan my hoofrigting van onderrig wees. Die kreatiewe skryfwerk bestaan uit digkuns, fiksie, nie-fiksie en toneel.”
Chrisli was tot 4 Augustus vir ses weke op ’n skryf- en dramakursus wat die kunsskool aangebied is.
“Daardie ses weke het aan my bevestig dís wat ek vir ’n lewe wil doen. Ek is baie bewus dat dit ’n moeilike beroep is, maar ek kan myself nie in ’n ander veld sien nie. Ek het al na ander moontlikhede gekyk. Vandat ek kan onthou, wil ek ’n aktrise word.”
Volgens haar was die afskeid moeilik. “Dis baie swaar en oorweldigend om binne een dag afskeid van die skool te moes neem. Hierdie is ’n groot stap. Die ses weke op die kursus was reeds lank. Maar ek glo dis alles ’n kop-ding. My ingesteldheid is dat hierdie ’n geleentheid is om aan my loopbaan te slyp en deure oop te maak. Ek kom darem vakansies terug om te kuier.”

Chrisli Markram op die verhoog. Sy is op pad na Amerika om haar skoolloopbaan daar te voltooi in ‘n poging om vir haar ’n loopbaan in die uitvoerende kunste te skep.