– Deur Christi Dempers
“Daar is drie dinge in die lewe wat ’n gegewe is: die dood, belasting en dat jy rek-huiswerk gaan kry,” het juf. Ilse Olivier eenkeer vir ’n rekeningkundeklas gesê. Sy was inderdaad reg. Nie eens ‘n pandemie kon die vloed rek-huiswerk stopsit nie.
Personeel en leerders van Oranje het vanjaar ‘n besonderse uitdaging in die gesig gestaar toe Covid-19 en die inperking die skooljaar ontwrig het. Die gr. 8’s en gr. 9’s wat eers op 3 Augustus terugkeer, gaan presies vier en ’n half maande by die skool afwesig wees.
Van onderwysers en leerders se kant af moes nuwe planne beraam word om die skoolkurrikulum suksesvol te probeer voortsit.
Onderwysers het innoverende maniere gevind om klasse aanlyn aan te bied en het onder meer van Zoom en YouTube gebruik gemaak om skool te hou. WhatsApp-stemboodskappe en klasgroepe is ook gebruik om inligting aan leerders oor te dra.
Volgens juf. Kristin Göbel, Duitse onderwyser, is dit ‘n heel ander ervaring om op platforms soos Zoom klas te gee. Sy voel dat ‘n mens in ‘n gewone klaskamer op ‘n meer persoonlike vlak met die kinders werk en sy mis die interaksie in die klas. Dis vir haar frustrerend dat sy nie altyd weet of die dogters op datum bly en of hulle die werk verstaan nie. Sy bly egter positief en glo dat sy weer sal pret hê saam met haar klasse wanneer hulle weer terugkeer skool toe.
Die skool het leerders op elke moontlike vlak probeer bystaan gedurende hierdie onseker tye en het selfs data vir leerders gekoop.
Oranje se onderwysers het ondanks die baie teëspoed met ywer voortgewerk om te verseker dat leerders nogsteeds wêreldgehalte-onderrig ontvang.

‘n Zoom-sessie van juf. Kristin Göbel, Duitse onderwyser, en haar leerders.