Die jaar is skaars twee weke oud en Oranje het reeds twee dogters in ’n nasionale sportspan.

Die gr. 10’s Danielle Joubert en Miché Johns is verlede week in die nasionale tetrathlonspan van die Suid-Afrikaanse Moderne Vyfkampvereniging ingesluit.

Hulle gaan aanstaande maand aan die Junior Pentathlon-wêreldkampioenskappe in Egipte meeding.
Danielle gaan vir sowel die o.17- en o.19-span deelneem en Miché vir die o.17’s. Hulle is twee van vier meisies in die SA-span.

Die span is gekies op grond van deelnemers se uitslae op verlede jaar se Suid-Afrikaanse Pentathlon- en Laser Run-kampioenskappe in Maart en bykomende ligas in Desember. Danielle was op die SA’s tweede in die laser run en in die pentathlon vir o.17’s. Miché kon weens ander verpligtinge nie deelgeneem nie.

Tetrathlon vir o.17’s bestaan uit skerm, 200m swem, 3 x 800m hardloop tesame met laserpistoolskiet tussen elke ronde. Vir o.19’s is die hardloop 4 x 800m.

Danielle Joubert (boonste foto) en Miché Johns (onder).