’n Allemintige 24 onderskeidings en drie plekke onder die top-50 in die Vrystaat.
Dís die merkwaardige prestasie deur die De Wet-sibbe van die Hoër Meisieskool Oranje. Die jongste van die drie, Lize, het haar ouer sussies, Elsa (24) en Estie (22) nagedoen deur ook agt onderskeidings in haar matriekeksamen te vermag én onder die top 50 in die provinsie te eindig.
Lize was haar skool se vyfde beste presteerder en het die beste in kuns (90%) en Lewenswetenskap (95%) gevaar. Sy gaan vanjaar vir ’n graadkursus in meganiese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch inskryf.
Lize was verlede jaar een van die onderhoofdogters. Elsa was 2013 se hoofdogter en Estie ’n lid van die VRL (Verteenwoordigende Raad van Leerders) in 2015.
Elsa het medies gestudeer en doen nou haar internskap aan die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad. Estie het ’n kursus in musiekteater aan die Waterfront-teaterskool in Kaapstad voltooi en gaan nou begin om sielkunde te studeer.
Volgens die ouers, Frikkie en Lizette, is hulle spruite se briljante akademiese uitslae net genade.
“Ons het ’n huisomgewing probeer skep waar een se blydskap almal s’n is en waarin almal in mekaar se hartseer deel. Jy kan maar sê ’n omgeehuis waarin ons mekaar se grootste ondersteuners is,” het die ouers van die Wet-slimkoppe gesê. Frikkie is ’n siviele ingenieur en Lizette ’n senior lektor in rekenaarwetenskappe.
Frikkie het tot einde verlede jaar op die beheerliggaam gedien en gesê hy het in totaal 11 pa-en-dogteraande meegemaak.