Die Hoër Meisieskool Oranje se twee debatspanne het albei met ’n derde plek van die nasionale ronde van die Dink-of-Sink-debatskompetisie teruggekeer.
Dit was die derde keer in vier jaar wat sowel die senior- as juniorspan as streekwenner deurgedring het.

Interessant genoeg het twee van die meisieskole teen wie Oranje jaarliks meeding, Affies en Bloemhof onderskeidelik eerste en tweede in die junior-afdeling geëindig en onder die seniors Affies Seunskool (eerste) en Paul Roos Gimnasium (tweede).

Oranje, wie se twee spanne in 2016 albei die nasionale kampioen was, is deur juff. Adéle Dempers (seniors) en Reinette van der Walt afgerig.
Die senior span het bestaan uit Jaden Henney, Christi Dempers en Chané Nel, en hulle vier onderwerpe in hulle debatte was “Skole heg te veel waarde aan sportprestasies”; “Genadedood behoort wettig te wees”; “SA behoort die die 2032 Olimpiese Spele aan te bied” en “E-sport behoort op skoolvlak aangebied te word”.

Die juniors, bestaande uit Elsabé Paulsen, Annemie Grobler en Tuané Heyns, se onderwerpe was “Die skoolsnoepie behoort gratis middagete te verskaf”; “Redenaars is beter as debat”; “Skoolonderrig behoort of lewensvaardighede te fokus” en “Skoonheidskompetsies behoort verbied te word”.

Oranje se senior debatspan is van links Chané Nel, Christi Dempers en Jaden Henney.

Oranje se junior debatspan is van links Elsabé Paulsen, Tuané Heyns en Annemie Grobler.