– Deur Charlotte Doubell

Oranje se gelukbringer, hoofondersteuner, ’n simbool van vreugde, hoop en goeie gees. Dis Die Eend wat staan vir tradisie en trots. Sy simboliseer liefde vir die skool en haar mede-Oranjeniete. Sy is ‘n vrolike geel spatsel met ‘n alewige glimlaggende snawel.

Sonder Oranje sou Die Eend slegs ‘n kostuum gewees het, maar ná jare se geesbou- of sportbyeenkomste het Die Eend deel van Oranje se hartklop geword. Dis alles danksy mev. Monique Borlinghaus, ’n Oranje-ouer van Angelique (matriek 2012), Chantené (2015) en Minicha (2018).
“Bloemhof het mos die beer, so ek het gevoel Oranje kort ook so iets. Ek het lank op die internet gesoek tot ek ‘n kostuum in China gevind het wat ek geweet het sou werk,” sê sy.

Die Eend het haar eerste verskyning in 2015 gemaak. Juf. Mariehetta Matthee was selfs al by geleentheid met ‘n geesvang in die kostuum gewees wat ‘n groot verassing vir die leerders was.

Carli Olivier, huisleidster van Otto, sê daar is nie ’n vaste stelsel om iemand te kies om lewe aan Die Eend by verskillende skoolgeleenthede te gee nie. “Partykeer kom vra meisies ons of hulle Die Eend kan wees en ander kere kies ons sommer iemand.”
Dis wel vir Carli-hulle belangrik dat die identiteit van hierdie motiveerder anoniem vir die geleentheid bly, sodat Die Eend ‘n simbool van Oranje se gees kan bly, eerder as die van ‘n spesifieke mens.

Annika Herbst, ‘n matriekleerder wat al verskeie kere deur haar hoërskoolloopbaan Die Eend verteenwoordig het, beskryf Die Eend as vol tradisie en ‘n voorreg om deel daarin te hê. “Deur Die Eend-identiteit aan te trek, vat ‘n mens hande met vorige generasies se eende en word jy verenig deur meer as net ‘n kostuum, maar deur jare lange tradisies en ‘n liefde vir Oranje.”

Magé Troskie, gr. 11, was in die kostuum op vanjaar se Valentynsdag. “Niemand het geweet dis ek nie, maar die aantal glimlagte wat ek daardie dag bymekaar gemaak het, het die anonimiteit die moeite werd gemaak. As ’n mens in Die Eend is, voel jy soos ‘n superhero. Almal wil ’n foto saam jou neem en as jy ’n bietjie heupe swaai, lag almal hulle dood.”

Hilda Olivier (matriek) sê Eend-wees was vir haar ‘n groot voorreg en dit voel asof sy die hele Oranje verteenwoordig het. “Sy is amper soos die Onbekende Oranje vir my,” sê Hilda.

Die kostuum het egter sy nadele. Meeste dogters wat al daarin geklee was, sal kan saampraat oor die amper onuithoudbare hitte binne die kostuum op ‘n warm dag. Hulle sê dit voel soms of jy wil versmoor, maar dat al die liefde wat die Eend ontvang en die opwinding daarvan om Oranje se “mascot” te wees darem daarvoor vergoed.