Driedubbele ja’s binne net 17 uur. Die dogters van drie adminpersoneel by die Hoër Meisieskool Oranje het rondom Nuwejaarsdag op ’n streep die ja-woord gegee. Twee van die drie verloofdes is oud-Oranjes. Mevv. Chantelle Botes, Lida Ezendam en Jeanine Kuntzman gaan kort voor lank ’n skoonseun ryker word.
Eersgenoemde twee is debiteure klerke en Kuntzman is Oranje se ontvangsdame. Zandri, dogter van mev. Kuntzman, se verloofring is op 31 Desember rondom 22:00 aan haar vinger gesteek. Jannas Eloff het haar by sy aanstaande skoonouers se huis in Bloemfontein om die hand gevra.
Mev. Kuntzman sê hulle was in Margate met vakansie toe die verlowingsfoto’s aangestuur word. Volgens haar het hulle dit effe later eers verwag aangesien Jannas vroeër in Desember ouers gevra het. Zandri is ‘n wiskunde-onderwyser en Jannas is in die lugmag. Hulle beplan om 25 Julie te trou. ’n Kort rukkie later, rondom 23:30, was Rozelle, oudste dogter van mev. Botes, aan die beurt.
Rozelle, wat in 2013 in Oranje in matriek was, gaan in 2021 met Mitchel Kanter, ’n Amerikaner afhaak. Mitchel het die groot vraag by die Chagrin Falls, ’n klein plattelandse dorpie in Amerika in die staat Ohio, gevra. Rozelle werk daar as ‘n au pair waar sy ook besig is om BSc verpleegkunde studeer.
Sy was in 2019 as die beste au pair in die wêreld aangewys (lees daaroor hier). Mitchel studeer tandheelkunde. Volgens mev. Botes was die verlowing plan F omdat die voriges misluk het.
Zaskia Ezendam, dogter van mev. Ezendam het op 1 Januarie om 16:30 verloof geraak aan Bernard van Rensburg en dit nogal in die lug. Bernard is ‘n adrenalienverslaafde en het met Zaskia gaan valskermsweef.
Dis iets wat hy gereeld doen, dus was Zaskia se verrassing groot toe hy haar daar tussen die wolke vra om sy vrou te word. Hulle het op die strand geland waar hy die ring aan haar vinger gesteek het. Zaskia, wat in 2009 aan Oranje matrikuleer het, is ‘n arbeitsterapeut en Bernard ‘n bourekenaar. Hulle trou op 13 Junie.

Van links is mevv. Chantelle Botes, Lida Ezendam en Jeanine Kuntzman met foto’s van hulle dogters en hulle kêrels aan wie hulle onlangs verloof geraak het.