Drie Oranjeniete, Miché Johns, Annika Krause en Tammy Cloete, is vir die Vrystaatse landloopspan gekies. Dit is die vierde agtereenvolgende jaar wat Tammy die span haal.

Die nasionale landloopkampioenskap word op 7 September in Centurion aangebied. Dit nadat dié drie landlopers almal onder die voorste 13 atlete in hulle ouderdomsgroep op verlede naweek se provinsiale kampioenskap geëindig het.

Benewens hul vertonings op dié kampioenskap moes hulle aan minstens vier van die ses ligabyeenkomste meegeding het om vir die Vrystaatse span oorweeg te word.

Op die provinsiale byeenkoms was Miché (gr. 8) die Oranje-leerder wat die beste presteer het. Sy het in die o.14-ouderdomsgroep vyfde (uit 34 atlete) geëindig in ’n tyd van 16.37 oor die 4km.
Annika (gr. 9) was 13de (uit 25 deelnemers) in die o.16’s se 4km. Haar tyd was 18.26.

Tammy (gr. 11) het in die o.22-ouderdomsgroep in die 12de plek oor die eindstreep getrap. Haar tyd oor die 4km was 18.21. Daar was ’n totaal van 24 hardlopers in hierdie ouderdomsgroep.
Nog ’n Oranjeniet, Christine van Heerden (o.17) het op dieselfde byeenkoms ’n 14de plek losgehardloop met ‘n tyd van 24.57.

Die 13-jarige Miché Johns was haar skool se beste presteerder op die Vrystaatse landloopkampioenskap. Sy het ‘n vyfde plek in die o.14-ouderdomsgroep behaal.