Drie Oranjeniete sal volgende maand vir die Suid-Afrikaanse skolehokkiespan uitdraf.

Truné Prinsloo, Mikkela le Roux en Matilé Prinsloo is vir die SA o.18-span gekies wat van 20 tot 25 April in Port Elizabeth aan die Interprovinsiale o.21-toernooi gaan meeding.

Mikkela was verlede jaar ná die o.18 IPT waar die Vrystaat die naaswenners was, vir die SA o.18-span gekies, maar die span het nie enige wedstryde in 2019 gehad nie. Matilé en Truné het toe die SA o.17-span gehaal, maar het ook nie enige kragmetings gehad nie. Vir Matilé is dit ’n merkwaardige prestasie nadat sy aan die begin van verlede seisoen eers haar plek in die eerste plek moes oopveg nadat sy weggelaat is.

In dieselfde toernooi sal Ané Janse van Vuuren en Megan-Lee Myburgh vir die Vrystaat o.21’s speel. Hulle is onderskeidelik nog net 15 en 17 jaar oud en gaan saam en teen spelers tot vyf jaar ouer speel. Ané, die jongste lid van die span, word volgende week 16 jaar oud.

Megan-Lee en Ané sal dan weer verenig met Amori Roos, spanmaat van 2018 en 2019 en Saré Laubser, spanmaat van 2018.
’n Derde oud-Oranjeniet, Simoné Gouws (eerste span tussen 2013 en 2017) is ook ’n lid van die Vrystaat o.21’s. Simoné is Oranje se laaste speler om vir die Proteas (in 2018) te speel.

Van links is Truné Prinsloo, Mikkela le Roux en Matilé Prinsloo.