Oranjeniete was weer eg kind op vanjaar Duitse aand waar genotvolle speletjies aangebied is om die 20ste aanbieding hiervan een te maak om te onthou.
Tydens die geleentheid ervaar leerders wat Duits neem en hulle onderwysers egte Duitse kultuur. Wie sou kon dink 200 dogters kan aan die ML Spiessaal ‘n Duitsland-aroma gee?
Frau Kristin Göbel, Duitse onnie, het besluit om vanjaar se geleentheid ‘n eerste van sy soort te maak deurdat die dogters tradisionele Duitse speletjies kon ervaar. Tabu en musical chairs was slegs ‘n druppel aan die emmer van die vele speletjies wat hulself vanuit die Weste kom voorstel het. G’n wonder nie die tema van die geleentheid was “Spiel und Spaβ” wat “speel en pret” in Duits beteken.
Rike Sprenger, ‘n 15-jarige Duitse uitruilstudent wat ook die aand bygewoon het, meen “Topfschlagen” is van jongs af haar gunsteling-speletjie. Tydens dié spel word iemand geblindoek. Die res van haar spanmaats moet verduidelik waar die sjokolade in die sirkel weggesteek is deur slegs van die woorde “warm” en “kalt” gebruik te maak, afhangend hoe naby sy daaraan kom. Een effens gedisoriënteerde dogter en die aanwysings van vriendinne het behoorlike maagpynlag verskaf.
Danae Muggelstone (gr. 10) het as wenner van die spel “Schokolade auspacken” met die bekende Duitse sjokolade, Milka, weggestap.
As deel van die egte Duitsland-ervaring het verskillende stede en dorpe uit Duitsland op die tafels gepronk. Celle, München, Cologne, Marburg en Freiburg is sommige van die stede wat uitgestal is. Leerders het vooraf in groepe van ongeveer 12 dogters uit dieselfde graad verdeel. Een van die 12 is as gasvrou gekies en moes hulle tafel versier.
Die matriektafel het die voorreg gehad om die geliefde hoofstad, Berlyn, uit te beeld. Hulle kreatiwiteit het selfs só ver gestrek om die Berlynse muur met klippies op die tafel te bou. Dogters het aan “Schnitzel und Pommes” (schnitzel en tjips) en die welbekende swartwoudkoek (Schwarzwälder Kirschtorte in Duits) gesmul.
Mia Buys, gasvrou van die gr. 8-tafel wat Münster voorgestel het, het vir twee weke aan hulle tafel se voorkoms beplan. Reané Russouw, ook van die Münster-tafel, sê die swartwoudkoek was haar hoogtepunt van die aand. Die kersie op die koek van dié passievolle groepie, is dat Angelica du Toit dié einste swartwoudkoek sewe keer moes bak om die perfekte produk te kry. Lize de Wet, ‘n matriekdogter, beskryf haar vyfde Duitsaand as “so viel Spaβ!” (soveel pret!).
Vanjaar was Frau Brigitte Botha se 20ste en laaste Duitse aand in die hoedanigheid as Duitse onderwyser. Sy tree amptelik aan die einde van die jaar af. Dit was vroeër as ‘n Duitse Kersaand in die vierde kwartaal gevier. Sy het die formaat twee dekades gelede verander. “Dit was baie oulik van Frau Göbel dat sy gedink het ons moet ’n interaktiewe aand hê. Ek dink die dogters het dit baie geniet, meer as vroeër jare omdat hulle nie net gesit het nie.”
Frau Wilmie Vosloo het dié gesellige aangeleentheid beskryf as: “Lachen, Freundschaft und Kreativität!” (gelag, vriendskappe en kreatiwiteit).
Kliek hier vir ‘n fotogalery van die aand.

Danae Mugglestone (gr. 10, middel) het die res van die dogters op die Duitse aand vinnig gewys waar Dawid die wortels gegrawe het, of liewer, waar Frau Kristin Göbel die sjokolade begrawe het. Danae het die speletjie “sjokolade-uitpak” gewen toe sy dié Duitse sjokolade tussen koerantpapier kon ontdek. Links is Magé Troskie en regs Milah de Klerk (albei gr. 10).