Al die reëlings wat verband hou met die interskole teen die Hoër Meisieskool Bloemhof kan maklik iemand teen die mure uitdryf en vir ‘n massiewe hoofpyn sorg.
Maar mnr. Niel Theart, die skool se sportorganiseerder, is nie net enige persoon nie. Hy behartig die administratiewe deel van dié inter al vir talle jare. Dit behels al die reëlings rakende die aantal leerders wat saamreis en vir hoeveel daar huisvesting gekry moet word, die aantal busse wat vooraf bespreek moet word, die begroting en die bespreking van verblyf vir die onderwysers en afrigters.
Vanjaar het daar ongeveer 360 meisies na Stellenbosch vertrek waarvan 250 saam met die bus gery het en 167 gehuisves moes word. Daar het vyf busse gery met twee busbestuurders vir elk. ’n Totaal van 36 personeellede het die leerders vergesel. Volgens mnr. Theart is die grootste hoofbreker om betyds bevestiging te kry van die leerders wat na Stellenbosch gaan.
Dit is vir al die leerders ‘n ongelooflik ervaring en mnr. Theart help om te verseker dat al die planne en programme vlot verloop. Volgens hom is daar nie baie spanning en druk op hom as die inter aanbreek nie omat baie van die reëlings reeds in April begin het.
Mnr. Theart is die man agter die skerms wat sorg dat al die eendjies sonder enige bekommernisse die interskole kan geniet en dat hul in ‘n ry kan stap en kan weet als is in plek.

Mnr. Niel Theart, die Hoër Meisieskool Oranje se sportorganiseerder, en die man verantwoordelik vir die reëlings van die Bloemhof-interskole waarby die helfte van die skool se leerders betrokke was.

Gr. 9-lede van netbal- en hokkiespanne vrolik op die bus op pad na Stellenbosch. Vyf busse het die sowat 360 leerders vervoer.