Met vier oorblywende lede van die 2019-span, twee nasionale spelers, agt provinsiale spelers, ’n gevestigde afrigter én die verwagting om op verlede jaar se sukses voort te bou, sal die soeklig vanjaar skerp op Oranje se eerste netbalspan val.
Die eerstes is vandag op Oranje se aandreeks die eerste keer in 2020 in aksie en word vir ’n derde seisoen deur mev. Retha Erasmus gebrei.
Daar is vier oorblywende lede van verlede jaar se span – Carli Olivier (doel), Lisa Cronjé (hulpdoelverdediger/verdediger), Janine Moolman (doel/hulpdoel) en Eilir Lindeque (verdediger/ hulpdoelverdediger/verdedigende vleuel).
Die nuwelinge is Jana Meyer (kaptein), Lea Cronjé, Zanelle Jansen van Rensburg, Flo Truter, Lehandri Robberts en Essie Pretorius. Lea is die jonger sussie van Lisa. Jana, Flo en Lehandri was in 2019 lede van die o.17A-span en Essie het vir die o.16A’s gespeel. Lea en Zanelle het van die o.15A-span tot in die o.19A-span gespring.
Carli en Janine het albei in onderskeidelik 2018 en 2019 vir die Suid-Afrikaanse o.16-span uitgedraf. Agt spanlede het verlede jaar provinsiaal gespeel – Jana, Lisa en Carli vir die Vrystaat o.17’s, Essie, Janine en Eilir vir die o.16’s en Zanelle en Lea vir die o.15-span.
Die span sal probeer om 2019 se eerstes na te doen wat vir die eerste keer in die 36 jaar bestaan van die Vrystaat-kampioenskap, die wenner was. Oranje het verlede jaar op die Suid-Afrikaanse kampioenskap sy beste jaar sedert 2013 (toe hy vierde was) gehad deur 13de te eindig. In 2018 was hy 18de en in 2015 17de. Oranje het nie vir die SA’s in 2017, 2016 en 2014 gekwalifiseer nie. Slegs die voorste twee spanne in ’n provinsie ding daar mee.
Die o.18A-span van 2019 het ook die All Girls’ Festival ’n tweede agtereenvolgende jaar gewen deur Bloemhof met 42-26 in die eindstryd te verslaan. Die Oranjeniete was in 28 uit 40 wedstryde aan die wenkant.

Die eerste netbalspan van 2020 is van links, voor: Eilir Lindeque, Zanelle Jansen van Rensburg, Lea Cronjé en Essie Pretorius; agter: Flo Truter, Jana Meyer (kaptein), Lisa Cronjé, Carli Olivier, Janine Moolman en Lehandri Robberts.