Flolinda Truter, gr. 11-leerder aan die Hoër Meisieskool Oranje sal haar tannie van 26 jaar gelede nadoen wanneer sy in 2020 die leisels van die leerders opneem.
Flolinda, oftewel Flo soos almal haar ken, is Woensdag as Oranje se hoofleier vir aanstaande jaar aangewys. Jaden Henney en Jana Meyer is haar adjunkte.
Evelyn, Flo se tannie aan haar ma se kant, was in 1993 Oranje hoofmeisie. Flo se ma, ook Flolinda, was in 1990 ’n prefek. Tien jaar later was die jongste van die Marais-sussies, Rosa, ook ’n leerlingraadslid by Oranje.
Flo is ook volgende jaar se Brebner-hoofleidster. Ook hier volg sy in haar tannie Evelyn se voetspore. Haar ander tannie, Rosa, was ook in haar matriekjaar Brebner se hoofleidster.
Flo, wat beskryf word as ’n deurlopend entoesiastiese leerder, het vanjaar vir haar skool se o.17A-netbalspan gespeel, sy het die Midmar-myl voltooi en in sewe vakke onderskeidings behaal, waaronder 96% vir Wiskunde, 90% vir Rekeningkunde en 93% vir Lewensoriëntering.
Sy was ook haar laerskool (Laerskool Universitas) se hoofmeisie in 2015.

Flo Truter, Oranje se hoofmeisie van 2020.

Flo se oudste tannie aan haar ma se kant, Evelyn Marais (tweede van links), was in 1993 Oranje se hoofmeisie.

Flo in 2015 as die Laerskool Universitas se hoofmeisie.

Flo op die netbalbaan as ‘n lid van Oranje se o.17A-span.