Sy is vreeslik opgewonde, maar terselfertyd ook ’n bietjie oorweldig deur die taak, sê aanstaande jaar se hoofdogter, Flo Truter.

Oranjeniete het hulle vertroue in Flo gestel om hulle in 2020 te lei. Sy is vroeër vandeesmaand op die prysuitdeling as hoofdogter aangewys (sien aankondiging hier).

“Dit is ’n groot eer en ek is dankbaar vir die geleentheid. Ek sien verskriklik baie uit vir alles wat op my wag, maar ek weet ook dat daar groot verantwoordelikhede kom saam met die geskenk wat die Here vir my gegee het,” sê Flo.

“Ek weet dit gaan nie altyd maklik wees nie, maar gelukkig sal ek altyd vir raad by Lise (Bezuidenhoudt, haar voorganger) kan gaan aanklop. My grootste uitdaging is sekerlik om voor baie mense te moet praat. Ek weet darem ook dat hoe meer ek dit doen, hoe makliker dit sal word. Aan my sy is daar ook ’n wonderlike span en saam met hulle kan dit net goed gaan.”

Flo en haar span is alreeds aan die woel met allerhande planne vir volgende jaar en het groot entoesiasme vir hulle taak.

Wie is Flo?
Wat of wie in die lewe gee jou ’n huppel in die stap? Definitief klein dade. Soos briefies of ’n drukkie of net ’n mooi boodskap.
Wat is jou mees kenmerkende eienskap? Ek is nogal ’n positiewe mens en energiek vir dit waaroor ek passievol is.
Wat laat jou met iemand anders kliek? ’n Gemaklike persoonlikheid en as ’n gesprek gemaklik vloei sonder om te dink waaroor om volgende te praat.
Het jy ’n verskuilde talent? Ek kan ’n rubix-cube solve!
Wat is jou grootste skelm bederfie? Caramel roomys.
Wat is jou kosbaarste materiële besitting? My dog tag. Ek het dit by my derde en laaste oorlewingskamp gekry. Elke keer wat ek daarna kyk, herinner dit my aan ’n tyd wat rof was en dat die Here my daardeur gehelp het en dat as ek die Here se hand vashou, ek deur enigiets kan kom.
Watter dag in jou lewe sal jy graag weer wil oorhê? Ek sal nie enige dag wil oorhê nie, ek glo dat al my slegte en goeie dae my gevorm het wie ek vandag is.
Wie was jou matriekheld toe jy in gr. 8 was en hoekom? My sottema, Talia Delport. Eintlik was sy een van my helde van kleintyd af. Ons is huisvriende en van jongs af kyk ek op na haar.

Kies een:
– Laat slaap of vroeg opstaan? Laat slaap.
– Boeklees of televisie kyk? Televisie kyk.
– Uiteet of kosmaak? Uiteet.
– Opgaar of weggooi? Opgaar.
– Intellek of humor? Intellek.
– Biltong of sjokolade? Sjokolade
– Bosveld of see? Bosveld.
– Drama of komedie? Komedie.
– Kom in die moeilikheid by jou ouers of by ’n onderwyser? Ouers.
– ’n Ysbad ná ’n wedstryd of die kleedkamer skoonmaak? Ysbad.
– Wendoel of onderskepping om die wedstryd te wen? Onderskepping.

Flo saam met haar sottema, Talia Delport, wat sy as haar rolmodel beskou.

Flo sê haar grootste uitdaging gaan wees om voor baie mense te praat.