Die nuwe talent onder die Hoër Meisieskool Oranje se swemmers het Vrydag van hulle laat kennis neem.
Die o.14-swemmers was hulle skool se grootste staatmakers op die jaarlikse National Aquatic Festival in Johannesburg. Oranje het vierde uit die tien deelnemende meisieskole geëindig. Oranje was eerste in 2016 en 2017, tweede in 2018 en derde in 2019.
Die kompetisie betaan hoofsaaklik uit aflosse. Die Bloemfonteiners het drie eerste plekke behaal waarvan twee deur sy o.14-swemmers.
Hulle het reeds in die vierde item van die dag, die 200m-rugslagaflos, die eerste goue medalje in die sak gesteek toe Francisca van Rooyen, Mari Nortjé, Kayla Vorster en Cara Smook ’n sege bewerkstellig het.
Dieselfde viertal het later in die 200m-vryslag weer koning gekraai. Francisca, Mari, Kayla en Mia van der Mescht het ook ’n derde plek in die 200m-wisselslag losgeswem. Francisca, wat in die Midmarmyl-opewaterswem sesde vir swemmers 13 jaar en jonger was, was Vrydag ook in ’n span van verskillende ouderdomme wat ’n derde plek behaal het.
Oranje se ander eerste plek was deur die o.16-span bestaande uit Chloë le Roux, Zané Snyman, Guilma Lausberg en Nicole Dreyer in die 200m-vryslag behaal.
Die o.15-swemmers (Anieke Helmand, Elizabeth Joubert, Anina Groenewald, Miché Johns, Danielle Joubert, Cara van der Bijl en Anandi Botha) bied ook hoop vir die nabye toekoms. Hulle het ’n tweede plek en twee derde plekke vermag.
Die enigste individuele medalje is deur Chloë le Roux verower in die 200m-vryslag vir o.16’s.

Die Hoër Meisieskool Oranje se o.14-swemmers was hulle skool se grootste presteerders op die National Aquatic Festival in Johannesburg deur twee goue medaljes en ’n brons te behaal. Van links is Francisca van Rooyen, Mia van der Mescht, Mari Nortjé en Kayla Vorster op die podium met hulle derde plek. Cara Smook was die ander o.14-swemmer wat vir die twee eerste plekke help sorg het.