– Deur Jana Campbell

Geesbou, lawwe aantrek, rasieleiers wat Woensdaeperiodes kortknip en die laaste drie jaar Magé Troskie se parodië, is waarna Oranjeniete voor ’n interskole uitsien.

Magé (gr. 11) laat die hele skool saamstem daar is nie nog ’n skool soos Oranje nie. Dié Oranje-beroemde se musiekloopbaan het in gr. 8 (2017) as ‘n grap begin toe haar eerste treffer, “Die Pliggie Lied” deur haar en haar vriendin, Milah de Klek, geskryf is.

“Ek het in gr. 9 my kitaar saam koshuis toe geneem en dit is waar die veld vlamgevat het en glo my, niemand kon die veldbrand blus nie,” veduidelik Magé.

Intussen het sy baie aandag begin trek met haar liedjies, optredes in die saal en video’s op sosiale media. Sy het selfs die aandag van Volksblad getrek wat onlangs ‘n berig oor haar geskryf het.

“Afhangend van hoe geïnspireerd ek is, kan ek ’n liedjie in 20 minute skyf. Dit help as ek my kitaar in my hand het, want dan vloei die woorde uit my hart uit. Ek geniet dit om liedjies vir die skool en onderwysers te skryf, omdat dit die mense naby aan my se gesigte ophelder, wat my werklik motiveer.”

‘n Konsert het gevolg vroeër in die jaar in die Rachel Steynsaal wat groot aftrek gekry het.

Magé werp egter nie al haar tyd en energie in die skryfproses nie. “Ek wou nog altyd ingenieurswese studeer, en is nogsteeds oortuig daarvan dat dit my pad vorentoe is, maar musiek het my passie geword. Maak nie saak waarheen my toekoms my lei nie, ek sal nogsteeds op die kantlyn liedjies wil skryf.”

Sy is egter nie ‘n een-toertjie-perd nie, en so skryf Magé nie net op aanvraag van dirigente en die VRL liedjies nie, maar werk aan dieper inhoud wat luisteraars sal trek.

“My gunsteling-liedjie wat uit my eie kitaar ontstaan het, is ‘Verdwaal’. Dit gaan oor hoe die lewe ons almal soms op vreemde paaie vat, waar ons soms nie weet presies waarheen ons op pad is, of wie ons is nie, maar elkeen van ons verdwaal om onsself te vind.”

Musikante het gewoonlik ten doel om roem na te streef, maar Magé se wens is nie om op ‘n spesiale manier by Oranje onthou te word nie, haar wens is dat haar musiek met die gehoor sal praat en iets in hulle sal wakker maak.

Magé Troskie