Arina Nicolaisen, ’n matriekleerling aan die Hoër Meisieskool Oranje, sê sy wou soos ’n klein kind op en af spring van vreugde toe sy hoor sy het pas ’n wêreldrekord agter haar naam geskryf.
Die 18-jarige Arina het Sondagoggend aan die Wêreldkampioenskappe vir gestremde junior atlete in Switserland die 800m in ’n rekordtyd gewen. Sy ding in die T38-klas mee vir atlete met ’n serebrale gestremdheid. Haar wentyd van 2:35:83 het die 18 jaar oue vorige wêreldrekord van die Portugees Maria Fernandes (2:35:90) net-net oortref.
“Hierdie is beslis die hoogtepunt van my atletiekloopbaan. Dis nie aldag wat ’n mens nie geleentheid kry om internasionaal deel te neem en dan boonop ’n wêreldrekord op te stel nie. Dis ’n baie groot eer,” sê Arina.
Benewens die nasionale rekord in die 800m spog sy ook met dié titels in die 400m en 1 500m.
Sy het verlede jaar die wêreldrekord in die 1500m met slegs ’n enkele sekonde misgeloop.
“Ja die rekord (in die 800m) was ’n groot mikpunt. Nadat ek reeds die SA rekords behaal het, het ons (sy en haar afrigter Rufus Botha) besluit om vir dit te gaan.
“Ek het ni dadelik besef ek het dit reggekry nie. Ek was nie by die baan toe dit aangekondig is nie. Dit was eers ’n werklikheid toe my ouers (Anton en Sunet) vir my kom sê het. Ek was baie bly, ek het soos ’n klein kind begin spring, só bly was ek.
“My ouers is baie trots. My pa en afrigter het gegrap ek gee vir hulle ’n hartaanval omdat ek in ’n staduim agter die tyd was.
“My vorige beste tyd was was 2:38.77, so dis nogal ’n baie groot verbetering.”
Sy was tot Dinsdag nog griep onderlede gehad het en Maandag nie eers ’n stem gehad nie.

Arina Nicolaisen op pad na haar wêreldrekord in die 800m op die Wêreldkampioenskappe vir gestremde junior atlete in Switserland.