Die eerste hokkiespan van die Hoër Meisieskool Oranje (OMS) het daad by woord gevoeg en sake reggestel met nóg ’n trofee in die kabinet.
Oranje het Saterdag (10/08) sy jaarlikse Super12-hokkietoernooi gewen. Dit was sy vyfde kroon in die ses jaar van die kompetisie. Die Bloemfonteinse meisies het ook in April die trofee op die gesogte St. Mary’s-toernooi verower.
Oranje het in Saterdag se eindstryd in Bloemfontein vir St. Mary’s Kloof met 4-2 verslaan. Daarmee het hy vergoed vir verlede jaar se nederlaag teen dieselfde teenstander in die halfeindronde van die toernooi.
Op pad na die eindstryd het Oranje met die Hoërskool Menlopark (halfeindstryd, 2-1), Collegiate Girls’ High (2-0), Rhenish Girls’ High (4-0), St. Mary’s Waverley (2-0) en St. Anne’s Diocesan College (5-1) afgereken.
Die sege oor Collegiate van Port Elizabeth Donderdagmiddag was ook soete wraak vir die twee nederlae vroeër in die jaar. Dit was Oranje se enigste twee verlore in 2019 voor die Super12.
Volgens mnr. Morné Odendaal, die afrigter, was daardie sege in hulle tweede wedstryd van die toernooi deurslaggewend.
Hulle het vroeër die oggend met die hele skool wat hulle ondersteun het, met 2-1 teen St. Cyprian’s van Kaapstad vasgeval.
“Dit was ’n moeilike wedstryd waarin ons baie kanse verspil het. Ons het daarna vir ’n uur lank gesels en ’n intense gesprek gehad. Almal het hulle sê gesê en ons het aanbeweeg.
“Die volgende wedstryd sou van kritieke belang wees, weens die twee keer wat ons reeds vanjaar teen hulle verloor het (die vorige keer net drie weke vantevore),” sê Odendaal.
Volgens die breier het die spelers se koppe gelig en hulle selfvertroue toegeneem ná die eerste doel teen Collegiate. “Ons kon in ons twee nederlae vroeër teen hulle nie ’n doel aanteken nie. So toe die eerste een val, kon jy sien hoe die gemoedere gelig het.”
Oranje sal nou in alle waarskynlikheid die jaar in die eerste plek op die skoleranglys afsluit. Die Hoërskool Menlopark, verlede jaar se kampioen, het derde geëindig.
* Oranje se 15-jarige Ané Janse van Vuuren was as die naasbeste speler aangewys en Truné Prinsloo het die toernooi as die voorste doelskieter afgesluit. Prinsloo het in Oranje se sege oor Rhenish al vier die doele geskiet.
* Kliek hier vir ‘n fotogalery van die Super12-toernooi.
* Oranje se o.16A-span is die naweek ook as kampioen van Paarl Gimnasium se Top12-toernooi gekroon. Hy was onoorwonne in sy sewe wedstryde en het in die eindstryd met 1-0 met St. Mary’s Waverley klaargespeel. Hy was in die halfeind met 2-1 baas oor Herschel Girls’ High. Daar was ook oorwinnings oor Collegiate (2-1), St. Mary’s (3-1), St. Cyprian’s (3-1) en Paarl Gimnasium (2-0). Die wedstryd teen Menlopark het 2-elk gelykop geëindig.
Leané McLaren was as die beste doelwagter aangewys.

Truné Prinsloo was die Super12-hokkietoernooi se voorste doelskieter. Sy het al vier haar span se doele teen Rhenish geskiet.

Vanjaar se Super12-hokkiekampioen, die Hoër Meisieskool Oranje, se span is van links, voor: Truné Prinsloo, Sumari Janse van Rensburg, Tuané van der Westhuizen, Ané Janse van Vuuren, Megan-Lee Myburgh, Elné Lourens, Matilé Prinsloo en Mikkela le Roux; agter: mnr. Morné Odendaal (afrigter), Mandie de Wet, Irmarie Buys, Zoë Erasmus, Amori Roos (kaptein), Jané Britz, Miné Janse van Rensburg, Elney Botha, Roné Bresler en me. Lucia Theron (spanbestuurder).

Oranje se o.16A-hokkiespan is van links, voor: Ané Oosthuizen, Anika Horn, Leané McLaren, Johanca Burger, Anja Theron, Tilde-Mari Prinsloo, Anika Robbertse en Nadia Fouché; agter: mnr. Stanley Biggs (spanbestuurder), Aleonor van Rijswijk, Naudene Prinsloo, Anzél van Zyl, Danielle Jacobs, Marleze Hoffman, Nicóle le Roux en mnr. Gys van Schalkwyk (afrigter).