Die Hoër Meisieskool Oranje het ’n paar sakies om reg te stel wanneer sy jaarlikste Super12-hokkietoernooi Donderdag begin.
’n Totaal van 42 wedstryde word tot Saterdag op die skool se astro aangebied. Dis die sesde weergawe van die toernooi wat die gasheerskool die eerste vyf jaar gewen het. Die Hoërskool Menlopark het hom verlede jaar onttroon.
Volgens Amori Roos, kaptein van Oranje, het verlede jaar seergemaak toe hulle in die halfeindronde (teen St. Mary’s Kloof) en daarna in die uitspeelstryd om die derde plek (teen Herschel Girls’ High) tot oorgawe gedwing is.
Die ander saak wat Roos-hulle wil regstel, is hulle teestryd teen Collegiate Girls’ High.
Dié skool het hom vanjaar al twee keer geklop, albei keer met 1-0. Dit was Oranje se enigste twee nederlae tot nou in 39 kragmetings vanjaar.
Oranje en Collegiate pak mekaar Donderdagmiddag. Kliek hier vir die volledige bepalings.
“Oranje verloor nie so gereeld nie. Om dus verlede jaar twee keer agtereenvolgens op die toernooi te verloor, het seergemaak,” sê Almori wat sedert 2017 vir die eerstes uitdraf.
“Ons het goed gespeel tot en met die halfeindstryd en net-net teen die einde vasgeval. Daarna het die koppe ’n bietjie gesak en het ons die laaste wedstryd ook verloor.”
Volgens haar is dit straf op die lywe om sewe wedstryde binne drie dae te speel.
“Ek as doelwagter voel dit darem nie so erg nie. Spanne sak dikwels op die Saterdag uit. Ons hoop ons teen dan na ‘n volgende rat oor te skakel, want ons het baie hard die laaste ruk geoefen en fiksheid gedoen.”
Benewens Collegiate (9de op die skoleranglys) is Oranje (eerste op die ranglys) saam met St. Cyprian’s (14de), St. Anne’s Diocesan College (4de), St. Mary’s Waverley (7de) en Rhenish Girls’ High (6de) gegroepeer.
In die ander groep is Herschel Girls’ High (2de), St. Mary’s Kloof (3de), Menlopark (5de), Paarl Gimnasium (8ste), Hoërskool Voortrekker (10de) en die Hoër Meisieskool Bloemhof (13de).
Oranje en St. Anne het vroeg in die seisoen in Bethlehem swaarde gekruis wat eersgenoemde met 3-0 gewen het. Die enigste ander span in Oranje se groep teen wie hy al vanjaar te staan gekom het, is St. Mary’s Waverley. Dit was die halfeindstryd op die St. Mary’s-hokkietoernooi waarin Oranje met 2-1 koning gekraai het.
* Oranje se span: Amori Roos (kaptein), Elné Lourens, Tuané van der Westhuizen, Megan-Lee Myburgh, Mandie de Wet, Jané Britz, Mikkela le Roux, Elney Botha, Irmarie Buys, Sumari Janse van Rensburg, Ané Janse van Vuuren, Zoë Erasmus, Truné Prinsloo, Matilé Prinsloo, Roné Bresler, Miné Janse van Rensburg. Afrigter: Morné Odendaal. Spanbestuurder: Lucia Theron.

Die Hoër Meisieskool Oranje se eerste hokkiespan hoop hy sal Saterdag op die Super12-toernooi sy hande op ’n trofee kan lê soos op die foto vroeër vanjaar op die St. Mary’s-toernooi.