Al was haar toonnael op drie plekke gekraak, vol bloed en seer, het ’n Oranje-hokkiester deur die pyndrempel gespeel omdat sy nie haar span in die steek wou laat nie.
Ané Janse van Vuuren, 15-jarige lid van die Hoër Meisieskool Oranje se eerste hokkiespan, het in die halfeindstryd van die Super12-hokkietoernooi voorverlede naweek teen die Hoërskool Menlopark ’n hou teen haar een groottoon gekry.
Volgens die skakel, wat sedert haar gr. 8-jaar vir die eerstes uitdraf, het sy aanvanklik aanhou speel tot sy gevoel het daar is fout.
“My kous was vol bloed. Die medici het my afgeraai om in die eindstryd (teen St. Mary Kloof) te speel, maar gesê as ek die pyn sal kan hanteer kan ek voortgaan.
“Ek het besluit om te speel en het okei gevoel, al was dit seer. Toe word ek weer op die toon raakgeslaan waarna ek ’n rukkie die veld verlaat het. Ek wou nie die span in steek laat nie. Die span het eerste gekom,” sê Ané.
Sy sê sy het aanvanklik effe teruggehou, maar toe besluit om die gedagte van ’n seer toon uit te skakel en voluit te speel. Oranje het die kompetisie gewen en Ané is agterna as die toernooi se naasbeste speler aangewys. Dít nadat sy ook op die St. Mary’s-toernooi die naasbeste speler was en as die Speler van die Toernooi én beste middelveldspeler aangewys is na afloop van die interprovinsiale hokkietoernooi vir o.16’s.
“Ek oefen hard en ons coach (Morné Odendaal) help my baie. Hy gee vir my oefeninge wat ek dan op my eie, so drie keer ’n week vir 45 minute, op ons klein astro by die huis gaan toepas.”
Odendaal was vol lof vir Ané. “Ek rig haar van haar gr. 5-jaar af en sy is een van dié talentvolste spelers met wie ek al gewerk het. Sy het een van die mooiste aksies as sy volspoed hardloop en die bal dribbel. Ané is besonders vinnig en beskik oor baie vaardighede,” sê Odendaal.
Sy sê sy koester drome van internasionale hokkie eendag, maar fokus nou eers op skolehokkie en hoop om die seisoen Saterdag in die Vrystaat-eindstryd teen die Hoërskool Sasolburg op ’n goeie noot te eindig.

Ané Janse van Vuuren op volle vaart in die eindstryd van die Super12-toernooi teen St. Mary Kloof, ondanks ’n voetbesering.