Juf. Anne-Marie Klink, hoof van die Hoër Meisieskool Oranje, moes Woensdag (15/05) daad by woord hou en vir ’n paar uur met ’n nuwe voorkoms by die skool rondbeweeg.
Sy het die skool se leerlinge uitgedaag om binne twee maande 2t se klere te probeer insamel vir Street Store, ’n projek waarin die publiek skenkings van klere, skoene, Bybels en kos doen. Dit word dan aan behoeftiges beskikbaar gestel.
Klink se se ooreenkoms met die leerlinge was dat indien die 2t-kerf bereik word, hulle haar kan laat aantrek en opmaak na hul keuse.
Die 2t is binne die afsnydatum van 23 April bereik en selfs oorskry. Die totaal het op 2.4 t te staan gekom.
Oranje het vir Grey-kollege uitgedaag wat 636 kg se klere bymekaar gemaak het.
Die volgende Street Store-geleentheid word Saterdag (18/05) by die Orgideë-huis sowel as by die Universiteit van die Vrystaat se suid-kampus gehou.