Oranje is bevoorreg om geleenthede soos die naweek se jaarlikse interskole teen Bloemhof te hê. Wanneer ons 05:00 gereed sit om die lang pad aan te pak, klop opgewonde harte, want ons weet ‘n naweek van pret, talenttentoonstelling en nuwe vriendskappe lê voor.

Die kultuuroggend is altyd ‘n hoogtepunt en ons kan met trots sê dat Oranje se dogters op kultuur- en sportgebied presteer het. Die debat was vir my persoonlik die hoogtepunt van die oggend met twee uitstekende spanne wat hulle stellings gemotiveer het.

Die geesvang langs die netbalbaan, hokkieveld en landloopwedloop motiveer nie net die sportlui nie, maar skep ‘n eenheid onder ons as Oranje-leerders. Om saam met my vriendinne ons skool langs die veld en baan te ondersteun laat my soos ’n trotse Oranje-eendjie voel.

Die uitplasing van dogters skep ‘n platvorm waar vriendskappe gevorm word en die naweek word op ‘n hartseer noot afgesluit wanneer dit tyd is om vir eers totsiens te sê. Met die uitplasing is ons baie bederf met Bloemhof-meisies wat nie twee keer dink om hul huis met ons te deel nie. Ek het die uitplasing positief ervaar en het baie welkom gevoel met my eerste ontmoeting van die gesin waar ek gebly het. Die etes wat voorberei is en reëlings wat vir my getref is, verlig die stres van die naweek. Ons kon elke aand afsluit met gesellige ete en dan natuurlik tee met koekies.

Elke meisie wat die naweek deelgeneem het, het Oranje se naam hoog gehou en kan met trots sê dat dit ’n suksesvolle naweek was.
* Danielle Theron is ’n gr. 10-leerder. Dit was haar tweede interskole in Stellenbosch.

Danielle Theron (links) saam met Christelle Venter van die Hoër Meisieskool Bloemhof by wie sy in Stellenbosch tuisgegaan het.