Dit het Vrydag ‘n ge-oooh en ‘n ge-aaah gevolg deur ‘n gejuig in die matriekvierkant by die Hoër Meisieskool Oranje afgegee toe ‘n matriekseun voor ‘n groep leerders ‘n matriekdogter die grootste vraag op skolevlak kom vra het – om sy meisie te wees.

Duan Kleynhans, ‘n gr. 12-leerder aan Grey-kollege, het vir Lienke Snyman drie vrae gestel waarop sy met ‘n koukiepen op ‘n wit bord ja of nee moes antwoord. Die vrae was versteek en eers nadat sy ‘n vraag beantwoord het, is die volgende een aan haar onthul. Die vrae (in hierdie volgorde was) of Lienke Duan se Valentyn sal wees, hom na die Grey-bal sal vergesel en sy meisie sal wees. Sy het op al drie vrae in die ja-boksie afgemerk.

Dié verrassing, wat baie lank aan die beplan is, het ekstra sprankel in Lienke se Valentynsdag gesit. Hulle ken mekaar al van hulle gr. 8-jaar af toe hulle mekaar se metgeselle na die sottesokkie was. Die twee het sedertdien goeie vriende geword.

Volgens Lienke het sy Vrydag se gebeure geensins verwag nie en beskryf dit as die grootste verrassing nog. “Dit het gevoel asof daar duisende skoenlappers in haar maag rondfladder,” sê sy.

Duan beskryf die dag as “nogals stresvol” en sê sy broek het net so effens gebewe, aangesien hy nie normaalweg só iets voor ‘n groot groep mense doen nie.

“Ek was baie op my senuwees en het die vorige aand amper niks geslaap nie. Maar toe ek haar sien en haar geskenkie (‘n reuse-teddiebeer) vir haar gee, het die stres weggesmelt. Ek was doodbang dat sy nee sou sê en was vreeslik verlig toe dit goed uitgedraai het,” sê hy.