– Deur Lana Loots

Toe die Campbell-gesin van Vryburg in Noordwes verneem van ses honde sonder ’n heenkome, het hulle dadelik huisvergadering gehou en besluit om hulle harte en huis vir die vierpotiges oop te stel.

Jana, ’n matriekleerder in Oranje, en haar gesin het nie net harte van goud nie, hulle is ook besonder lief vir die mens se beste vriend.

Elk van die halfdosyn honde het op ’n spesiale manier in hulle lewe gekom en sommer gou by die huisgesin begin aanpas. Om soveel honde te versorg is ’n groot taak en elk van die gesinslede moes hulle kant bring, sê Jana.

Daar word drie keer ’n week met die honde gestap. Hulle eet omtrent 3kg hondepille en kry minstens twee honde-koekies (bederfies) per dag.
Verder word daar nie van skoon drinkwater en komberse vergeet nie. Jana se pa, Quentin, maak seker elke hond het ’n warm slaapplek. Ma, Sonet, gooi af en toe vir hulle ’n lekker happie onder die eetafel as niemand sien nie.

Jana gaan stap gereeld met Zara (’n King German Shepherd) en Rockey (’n handsak-hondjie) en haar broer neem die ander vier vir ’n stap. Hulle is Skollie, ’n skaaphond, Rudi, ’n kruising tussen ’n German Shepherd en ’n Corgi, en nog twee handsak-hondjies, Dora en Sukkels.

Volgens Jana gun die honde vir haar alleentyd, solank sy nie iets sonder hulle aanpak waarvan hulle baie hou nie.
“Sukkels hou daarvan om saam te sing terwyl ek viool oefen en Zara sal naderhand moeg langs my lê terwyl ek ’n oefensessie tuis doen.
“Hulle maak normale dag-tot-dag dinge lekker, want hulle raak só opgewonde oor die kleinste gebeurtenisse,” sê Jana.

Jana Campbell met vyf van die ses aanneem-honde.