– Deur Lehzé Nieuwoudt (gr. 9, OMS-redaksielid)
’n Nuwe juffrou-eend het haar by Oranje aangesluit en vinnig haar vere hier reggeskud tussen haar “hoender leerders”.
’n Vrou met ’n passie vir leer en iemand met geduld vir woelige eende, dís juf. Lise-Mari Otto. Sy gee Engels eerste addisionele taal, wiskunde en behartig die leesprogram.
Wat leerders vinnig in hierdie blondekop-onderwyser se klas hoor, is die woord “hoender”. Deur leerders hoenders te noem is ’n taktiek wat sy gebruik om hulle aandag in die klas te hou.
“Om almal dieselfde ding te noem, klink darem dit nie so beledigend nie. Ek geniet dit as die kinders darem lag vir my dom grappies,” spot sy.
Die droom om ’n onnie te word was van jongs af daar, van juffrou-juffrou speel tot sy universiteit is om gestalte aan die droom te gee. Sy het haar haar onderwysloopbaan verlede jaar begin aan haar alma mater, die Hoërskool Fichardtpark, waar sy in 2014 die hoofdogter was.
Sy kan beskryf word as ’n onnie bedags en musiekblyspelster snags. Sy speel graag in plaaslike musiekopvoerings. Dit kom dan seker nie as ’n verrassing dat haar gunstelling-rolprent die klassieke blyspel ‘Moulin Rouge’ is nie.
Juf. Otto beskryf haarself as “vriendelik, positief en hardwerkend”. “Leef in die oomblik en geniet dit waar jy is,” is haar lewensfilosofie. “Moenie jou te veel oor die toekoms bekommer nie,” sê sy verder. Sy sê sy hou niks van onregverdigheid nie.
Lees is iets waarvoor sy baie lief is met onder andere Francine Rivers se nuutste boek, ‘The masterpiece’ wat op haar bedkassie is.
Juf. Otto beskryf Oranje as ” ’n skool met hardwerkende onderwysers, pragtige jong dames en ongelooflike tradisies”.
Juf. Lise-Mari Otto