– Deur Ivanke van Jaarsveld (OMS-redaksielid)

Die rokke is gepas, ’n fotosessie is agter die blad, ‘n toetslopie vir grimering het geskied, loopplankoefeninge is afgehandel en die voorafbeoordeling is gedoen. Nou kan Donderdag se glansaand, Mej. Oranje-kompetisie maar aanbreek hoor.

Die tien finaliste, wat deur hulle medeleerders benoem is, is Jaden Henney, Mariet Eloff, Ucrisha Ward, Jana Meyer, Katie Reimers, Elani van Pletzen (almal gr. 12), Anika Robbertse, Carmi van Niekerk, Irmarie Buys en Stephanie Wessels (almal gr.11).
Hulle beskryf die aand as asemrowend, pret, opwindend, onvergeetlik en ‘n enorme eer. Mej. Oranje, ’n eerste prinses en tweede prinses word aangewys.

Die groep meisies is reeds sedert November, toe die finaliste onthul is, besig met voorbereiding vir dié aand en ook die projek wat elkeen op die been moes bring. Van elke finalis is verwag om ‘n R1 000 in te samel deur ’n gemeenskapaksie van hulle keuse.
Gina Moolman, verlede jaar se Mej. Oranje, het destyds vir haar projek ‘n bok op hulle familieplaas in Namibië geskiet. Sy skiet van al kleins af. Sy het ook die vleis verwerk en dit aan ’n plaaslike supermark verkoop.
“Dit is iets waarvan ek hou en ek is mal daaroor om te gaan jag. Op die ou einde was dit meer pret as inspanning,” vertel Gina wat haar ouer sussies Carita en Lize nagedoen het om met die kroon weg te stap.

Juf. Ilse Wessels is vanaf 2007 aan stuur van sake. Die geleentheid is in 2007 weer in die lewe geroep nadat dit ‘n paar jaar lank nie aangebied is nie. Sy beskryf Mej. Oranje as ‘n kompetisie wat innerlike skoonheid vier wat na buite straal. Stage Alive Produksies van Pretoria wat vir die produksie (beligting, klank en kamera) verantwoordelik is, is van die begin af betrokke. Juf. Wessels meen hulle uitstaande diens en die goeie verstandhouding met hulle is deurslaggewend tot die sukses van die aand.

Die finaliste vir Mej. Oranje is van links, voor: Ucrisha Ward, Carmi van Niekerk, Mariet Eloff, Irmarie Buys en Elani van Pletzen; agter: Jaden Henney, Jana Meyer, Stephanie Wessels, Katie Reimers en Anika Robbertse.