– Deur Jana Uys de Castro
Jy leer regtig om iemand te respekteer as jy in hulle skoene geloop het, sê Katie Reimers nadat sy ’n glimbaadjie aangetrek en ’n dag lank as ’n parkeerwag in die somerhitte gewerk het.
Katie (gr. 12), wat in Maart as Mej. Oranje 2020 gekroon is en as Mej. Persoonlikheid aangewys is, het vir haar geldinsamelingsprojek (om ‘n R1 000 bymekaar te maak) in haar tuisdorp, Vanderbijlpark, by die plaaslike slaghuis voertuie opgepas.
Hoekom het jy besluit om ‘n karwag te wees vir jou projek? “Ek wou iets doen wat nog nooit gedoen is nie en ek wou iets doen wat sommige mense sal laat dink of hulle dit sou kon doen – ‘n uitdaging vir die siel.”
Wat was mense se reaksie? “Baie mense het vir my gesê ek is ‘n voorbeeld omdat ek werk vir my geld, maar ander het agtergekom ek is nie ‘n regte karwag nie en wou weet hoekom ek dit doen. Almal was rêrig vrygewig so al wat ek kan sê: Byl bo!”
Hoe het jy mense by die slaghuis benader? “Dit was aanvanklik moeilik. Dit was vreemd en jy moet maar jou ego sluk, maar dit het al makliker geword en ‘n mens se hand het later sommer vanself gewaai.”
Hoe het die ander karwagte teenoor jou opgetree? “By die slaghuis waar ek gewerk het, staan daar gewoonlik net een karwag, so ons het hom die dag afgegee en bederf. So ek het alleen daar gestaan.”
Het jy werklik ’n R1 000 gemaak? “Ja, plus wins. Ek kon myself by die winkelsentrum bederf én vir die karwag wat gewoonlik daar werk, ‘n klein dankie-sê-geskenk koop.”
Hoe lank het jy in die parkeerarea gestaan? “ ‘n Volle dag. Van 07:00 tot 16:30.”
Wat was die gemiddelde fooi wat jy ontvang het? “Om en by R10 tot R15 per voertuig.”
Wat is jou gevolgtrekking oor die persepsie van karwagte? “Gee elke los geldjie. In jou oë staan hulle dalk net daar, maar dit is baie harde werk. Dit maak ’n mens moeg en baie mense is ongeskik met jou. Jy leer regtig om iemand te respekteer as jy in hulle skoene geloop het.”